REDAKTEURSKOLOM DEUR MARIETTE BURGER - Graaff-Reinet se bewoners mag dalk verskillende menings oor politiek, geloof en 'n rits ander goed hê, maar as dit kom by water, het inwoners baie in gemeen.
Met die dorp se voortslepende waterkrisis, het Graaff-Reinetters wéér Maandagoggend wakker geword met nie 'n druppel water wat uit die krane kom nie.
Maak nie saak wat die oorsaak is nie, 'n dag sonder water is 'n krisis vir die ekonomie, openbare gesondheid én die omgewing. Met die Nqwebadam wat dor en tam lê - moeg van sy stryd met water - is die dorp nou afhanklik van boorgatwater.
Die voortslepende droogte blyk 'n wurggreep te wees wat ons net nie wil laat los nie. En, dit is nie die eerste keer wat Graaff-Reinet se woonbuurte sonder water sit nie, dit is deesdae 'n alledaagse gebeurtenis.
Dié keer blyk die probleem 'n foutiewe kragkabel te wees, wat verhoed het dat die pompe by een van Graaff-Reinet se boorgatvelde sy werk kon verrig om die water na die dorp se reservoirs te pomp.
Maar ai, water - wat maak ons sonder water?
Ek dink die feit dat dit só onverwags gebeur het is wat meeste mense goed die josie in maak.
'n Mens is net geheel en al ongeskik om jou daaglikse take sonder die behulp van water te verrig. Soos boere wat die pyn ken van wag op die hemel se wolke, het ons Maandagoggend na die krane gestaar - opsoek na 'n wolkie, maar instede sien ons net helder lug en warm son.
Vergeet van tande borsel, hare was, toilette spoel of skottelgoed was. Eenvoudige alledaagse takies raak skielik enorme probleme. Teen laatmiddag het die water darem weer stelselmatig deur die verskeie woonbuurte se krane begin loop. Planne ten opsigte van kragonderbrekings ensovoorts sal 'n mens seker kan maak, want dit dis hoe die mens is, innoverend.
Maar water is anders, want dit raak ons menswees.
Dis méér as kosbaar, dis ons lewensaar.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'