MURRAYSBURG NUUS - Die Murraysburg Sybokhaarkwekersvereniging het hul jaarvergadering einde 2018 op die plaas Brakvlei gehou.
Die vergadering is op paslike wyse deur Theronnie van der Merwe geopen waarna Berno Theron die vereninging se meegevoel uitgespreek het aan die Van der Merwe-familie met die afsterwe van oom Ben en tannie Wilna. Hy wens ook vir Frans Retief geluk wat ‘n finalis in die Daïdoh kompetisie is, vir die beste gemiddelde prys, vir somer kleinbokkiehaar, 2018. (Hy het die tweede plek behaal)
Die sprekers by die vergadering was Sagrys Slabbert (Bestuurder, Wol en Bokhaar, Sentraalstreek, BKB), Heinrich Victor (Oprasionele Bestuurder: Vesel en Skeerdienste), Sarel Hayward (SSA), Danie van Zyl (De Heus) en Boeta Grobler.
Die nuwe bestuur vir 2019 is verkies. Hulle is Theronnie van der Merwe as voorsitter, Francis Kingwill as ondervoorsitter, Phil de Klerk as as sekretares en Jason Butterworth as hulpsekretaris. Die addisionele lede is, Philippie Retief, Berno Theron en Carel van der Merwe.
Tydens dié byeenkoms was daar weer verskeie kompetisies waaraan boere kon deelneem.
Met die plasing van die ramme was Paul Broeksma en Jason Butterworth in die kol en met die plasing van die kapaters was Philippie en Luzanne Retief in die kol.
Daar was ook ‘n ram waarvan die gewig geskat moes word.
Hier was Luzanne Retief die enigste wat korrek was.
Die kuddekompetisie het ten spyte van erge droogte steeds goeie belangstelling gehad. Behalwe vir die wisseltrofees is daar ook pryse deur CMW, BKB, SSA en De Heus, geborg. Hierdie trofees en pryse is deur Cornè Nel (BKB), Heinrich Victor (OVK) en Frans Retief, aan die wenners oorhandig.
Die beste ooitjie in die versorgde afdeling is deur William Biggs en in die onversorgde afdeling deur Boeta Grobler, ingeskryf. Die beste groep ooitjies in die versorgde afdeling is deur William Biggs en in die onversorgde afdeling deur Boeta Grobler, ingeskryf.
Na ‘n leersame dag is verversings geniet en lekker saam gekuier.
Die Murraysburg Sybokhaarkwekersvereniging is groot dank verskuldig aan die Grobler-egpaar vir die beskikbaarstelling van hul plaas.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'