TUINROETE | KAROO NUUS - Wonder jy ooit hoekom sekere areas meer oorstromings en rioolstortings het as ander?
In meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met wat in die drein afgaan.
Verkeerde goed
Verkeerde goed wat in toilette afgespoel of in mangate en stormwaterafvoerpype gegooi word, is die grootste oorsaak van riool wat oorloop, verstopte dreine en oorstromings in opgeboude areas.
Probleemitems sluit in: kosverpakking en koeldrankbottels in stormwatersisteme, groot items soos dooie diere en meubels in mangate en afvoerpype, babadoeke, sanitêre produkte en koerantpapier wat in toilette afgespoel word.
Klein gat, groot probleem
Dinge verdwyn nie net omdat jy dit in die toilet afgespoel het of in ‘n dreingat gegooi het nie!
Inteendeel, verkeerde items in die dreine sal waarskynlik ‘n baie groter, meer stinkerige probleem word as die ding wat jy wou weggooi.
Dink daaroor: ‘n Sanitêre doekie lyk na ‘n klein dingetjie, maar dit kan ‘n groot rioolstorting in jou agterplaas veroorsaak as dit selfs net een pyp verstop.
Pype gaan oral
Ondergrondse pype verbind jou gemeenskap onder die grond op dieselfde manier as wat strate bo die grond aan mekaar verbind is.
Dit beteken vuilgoed wat binne-in ‘n drein ver van jou huis in ‘n gat gedruk is kan steeds probleme by jou eie huis veroorsaak, of waar jy inkopies doen, werk of stap. Die hele gemeenskap word bevoordeel wanneer pype oral skoon is.
Vullis verstop die sisteem
Niks solied is veronderstel om by ‘n dreinpyp of toilet af te gaan nie, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
Groot goed sal maklik in ‘n pyp vassteek, maar ‘n hele klomp klein goedjies sal uiteindelik saam ook die drein toe stop.
Ernstige gevolge
Verstopte stormwaterdreine kan oorstromings veroorsaak wat huise, motors en eiendom kan beskadig en kan gevaarlik wees vir verdrinking.
Verstopte rioolpype sal tot rioolstortings lei wat stink en selfs ‘n gesondheidsprobleem kan wees.
Om dreinpype skoon te maak is duur en kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir ander gemeenskapsprojekte gebruik kon word.
Indien jy gevang word dat jy rommel stort of rondgooi sal jy ‘n boete kry. Indien jy nie die boete kan betaal nie kan jy tronk toe gaan.
Moenie dit doen nie!
Moenie jou rommel in die gate langs die pad (stormwaterpype) gooi nie.
Moenie die volgende dinge in jou toilet afspoel nie: babadoeke, sanitêre doekieS, koerantpapier, lappe, vetterige kos en vet.
Moenie die volgende items in mangate en dreine gooi nie: takke, karbande, klippe, dooie diere en vuil lappe.
Lees meer in susterspublikasie, George Herald
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'