GRAAFF - REINET NUUS - Jermima Yvonne (Mimi) Lategan is op 19 Desember 2021 in die ouderdom van 83 jaar in Gqeberha (Port Elizabeth) oorlede.
Sy is op 25 September 1938 in Graaff-Reinet gebore. Sy was die oudste kind van Pieter en Hannah (gebore Minnaar) van Eck van Aberdeen.
Haar broer, wyle Fanie van Eck, was getroud met wyle Renette van Eck van Willowmore. Mimi se suster Margaret is getroud met Manie Schoeman, wat op 'n plaas in De Rust grootgeword het.
Al drie kinders moes takies in hul ouerhuis en in pa, Pieter, se besigheid verrig.
Die Van Eck-kinders is geleer om met hul talente te woeker en hul hande in die water te steek. Mimi geniet haar skoolloopbaan in Aberdeen waar sy in 1955 matrikuleer. Sy was hoofmeisie en ook duxleerling.
By Stellenbosch Universiteit ontvang Mimi musiek- en sangopleiding onder leiding van prof. George van der Spuy. Sy wen 'n eerste prys vir sang by die Kaapse Eisteddfod.
Mimi was ook boervrou saam met haar man, wyle Fanie (1935 – 2005), op die plaas Wynlaagte buite Aberdeen vir ongeveer 48 jaar.
Danksy dié vrugbare vennootskap kon Fanie later sewe plase en nog 'n stuk grond aankoop waar groot ontwikkelings volg. Woonhuise word vergroot en arbeidershuise word vergroot en bygebou. Elektrifisering vind plaas.
Groot gronddamme en landerye word deur wyle Fanie met sy eie werktuie aangelê. Boorgate word eers met eie stamperbore en later met 'n kompressorboor gesink.
Mimi help haar man om deur God se genade suksesvol deur al die droogtes te boer. Sy word Fanie se regterhand, doen die boeke en skryf soms die reënvalsyfers op. Sy saag self die slaggoed op en maak biltong en wors.
Mimi se mense het tuisgebakte brood en daagliks 'n bord gekookte Boerekos gekry. Sy kon die lekkerste koeksisters, appeltert, pynappeltert, sjokoladepoeding, sjokoladekoek, lemoenkoek, brandewynrolletjies en kweperlekkers maak.
Sy was ook lief vir blomme en tuinmaak en klipbanke is op die plaas gebreek om blomakkers aan te plant.
Uit haar huwelik is vier gebore: Gawie, Pieter, Stephan en Karen. Tien klein en drie agterkleinkinders volg. Al Mimi se nasate word dieselfde behandel en niemand kry voorkeurbehandeling nie.
Haar vriendinne was vir haar goud werd en die leeskring en bybelstudiegroep in Graaff-Reinet was vir haar kosbaar.
Mimi was lank voorsitter van Aberdeen se VLV-tak en sy het op die bestuur van Sirkel Middelland VLV gedien.
In Aberdeen dien sy op die NG kerk se sendingkommissie, was sy orreliste daar en het sy talle kere solo's in die kerk gesing. Mimi het ook op talle troues gesing.
Met haar aftrede in Graaff-Reinet het sy ook vir die Metodistekerk orrel gespeel.
Op 24 September 1994 het Mimi 'n koorfees op Aberdeen gereël waar agt kore met 200 lede opgetree het.
Op 25 September 1995 was sy weer betrokke met die NG kerk se orrel-eeufees. In 2005 het Mimi 'n digbundel "Van Soeklig tot Spieëlbeeld" uitgegee. Sy het vroeër talle berigte vir Graaff-Reinet Advertiser geskryf.
Onder haar uitlatings was juwele soos "ek is gewoond om op 'n oorlogskip te wees. Jy neem jou naam saam met jou. Dis nie die lengte van jou lewe wat tel nie, maar die diepte. In die aarde het jy na waters gesoek en die fonteine van God gevind."
Mimi het mense nooit uitgelag nie, net saam met hulle gelag. So kon sy saamlag oor die Omie van Willowmore wat gesê het: "Daar is geld waarvan net ek en die Here geweet het en dan is daar geld waarvan net ek alleen geweet het."
Die liefde en respek wat Mimi by vriende en familie afgedwing het, word weerspieël deur die volgende boodskappe: "Jou Ma mag maar sing. Sy was 'n merkwaardige vrou. Sy het my so baie van musiek en veral kerkmusiek geleer. Ek het haar bewonder vir haar besondere sangtalent. Sy los die mooiste herinneringe hier op aarde. Ek dink terug aan hoe Ma altyd daar was vir ons en aan alles wat Ma vir ons geleer het. Jy was 'n veelsydige en talentvolle mens met vele Godgegewe talente. Jy was 'n ware steunpilaar in jou familiekring en gemeenskap. Ouma was my rots en steunpilaar. Ouma met die engelstem. Saam kon ons lag in die goeie tye, huil in die slegte tye en mekaar se bekommernisse deel. Ouma, ek sal jou langs-my-sit-in-die-kerk op Sondagoggende mis. Dis 'n seer koebaai. 'n Stukkie van jou sal altyd voortleef deur my. Jy het onvoorwaardelik liefgehad. Jou oggend-, middag-, en aandpraatjies was dieselfde. Jy het nooit geroem in wat jy alles bereik of gedoen het nie."
Koos du Plessis se woorde het waar geword: "Skielik is jy vry."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'