GRAAFF-REINET NUUS — Ten spyte van die vreugde oor die goeie uitslae van talle Spandau Senior Sekondêre Skool matrikulante, het 2017 se matriek slaagsyfer egter afgesteek teenoor 2016 s'n.
Spandau se slaagsyfer staan tans op 52.9% teenoor 2016 se 70.9% en 2015 se 49.7%.
Inwoners vanuit die area wat deur die skool bedien word, het die leerders wat die graad suksesvol geslaag het op sosiale media geluk gewens met hul prestasie. Daar is terselftertyd die hoop uitgespreek vir 'n verbeterde slaagsyfer einde 2018.
Goeie nuus vir diegene wat matriekuitslae vir verbeter
Vir matrieks wat die 2017-eindeksamen druip of swakker gevaar het as wat hulle gehoop het, het die Oos-Kaapse onderwysdepartement goeie nuus.
Mali Mtima, ’n woordvoerder van die onderwysdepartement, sê die departement se Second Chance-program is gratis en stel mense in staat om hul matriekuitslae te verbeter deur vakke oor te skryf.
“Die program is spesifiek saamgestel vir matrieks wat nie goed gevaar het nie of gedruip het, dié wat volgens die departement se vorderingsbeleid in 2016 van Graad 11 na Graad 12 oorgeplaas is en mense wat aanvullende eksamens moet skryf,” het Mtima verduidelik.
“Die regering het hierdie ingrypingsprogram begin om matrieks ’n tweede kans te bied om hul uitslae te verbeter.”
Mtima het bygevoeg matrieks wat gedruip het, kan hul vakke oor ’n jaar in modules herhaal. “Dit beteken leerders herhaal deur die jaar net die vakke wat hulle gedruip het en skryf aan die einde van die jaar daaroor eksamen.”
Mtima sê matrieks het ook die geleentheid om vir die aanvullende eksamen te registreer.
“Die eksamen is nog ’n kans vir matrieks om hul punte te verbeter. Hulle kan dan by die skool registreer, wat hulle daarna by die departement vir die eksamen sal registreer.”
Mtima het matrieks wat nie in die 2017-matriekeindeksamen goed gevaar het nie aangemoedig om nie tou op te gooi nie. “Hulle moet hul moue oprol, skouer aan die wiel sit en werk om ’n beter lewe te kan lei."
Spandau 2017 matrikulante wat hul graad suksesvol geslaag het glimlag breed oor hul uitslae.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'