GRAAFF-REINET NUUS - 'n Onderwyser van Hoër Landbouskool Marlow, Jaco Beukes, is op 24 Augustus na 'n siekbed oorlede.
Rikus van Dyk, ook 'n onderwyser by dié skool, het 'n huldeblyk aan sy oudkollega en vriend gebring.
“Die eindfluitjie het geblaas en die hemel is nog ‘n engel ryker. Na 23 jaar het ons vanoggend vir jou die klok gelui. Jaco, ons groet en weet dat jy in die hemel met ope arms ontvang word deur die talle 'Wolramme' wat reeds daar is. En ek kan net dink hoe lag en gesels jy met hulle oor ou 'Wolramstaaltjies' en rugby wat al vergeet is. Jaco was iemand wat menige jongmanne se lewens aangeraak en verander het. Hy was bekend as ‘n vasbyter met ‘n veggees soos min, ‘n skerp oog vir talent met ‘n gawe om te ontgin en te ontwikkel. Hy was 'n mens-mens, saggeaard met wysheid en ‘n sin vir humor. As kollega en mentor was hy altyd ‘n spanspeler," vertel Van Dyk.
“Dit is duidelik dat die personeel van Hoër Landbouskool Marlow vir 23 jaar Beukes se wysheid en lewenskennis ervaar het. Hy het diep spore gekerf in die hart en siel van elke leerder," sê Van Dyk.
Beukes is op 31 Augustus begrawe en laat sy eggenoot Lisa, en kinders Lukie en Niekie na.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’