RUBRIEK - Oom Klaas kom by my werf aan terwyl ek besig is om 'n ingewikkelde, deurmekaar knoop uit 'n stuk tou loswikkel.
Ek het 'n vrag goed gekarwei en moet nou die tou losmaak om die goed af te laai.
Met die grondpadry se geskud het die tou maar stremming gevat en die knoop behoorlik inmekaar laat trek. Vervloek of ek die finale knoop waarmee die vrag vasgemaak is, kan loskry! My geduld is boomskraap.
Oom Klaas hou die konsternasie so dop dat hy naderhand eintlik skewekop staan. Hy vat oor by my en kyk of hy nie iets uitgerig kry nie, maar niks – daai knoop SIT. Hy begin lag dat sy skouers skud: "Dis nou vir jou 'n regte Gordiaanse knoop, is dit nie!"
"Jong, kom ons loop vat 'n boeretroos, dan lyk die wêreld sommer beter. Ons kan netnou vir vers 2 insit," seg hy.
So op pad koolstoof toe waar die koffie prut, laat val hy: "Ja, partykeer lyk 'n man se lewe soos daai tou van jou vandag lyk. Hoe groter en losser die vrag, hoe stywer die tou. Hoe stywer die tou, hoe vaster die knoop."
Na die koffie, terug by die bakkie met die vrag en die geknoopte tou, probeer ek maar weer om die knoop los te wikkel. Oom Klaas gee een kyk, maak my bakkie se deur oop, leun in en haal my klein geniepsige, maar vlymskerp, handbyltjie uit. Ek staan effe tru. Hy meet die knoop met die oog en laat loop met die byl. Met een blitsige, skoon hou sekuur op die knoop, skiet die tou los.
"Daarsy. Dan doen ons dit so. Knoop is deurgehak, Boeta!"
Sonder wik of weeg vat Oom Klaas die twee punte van die deurgehakte tou, gee dit vir my aan en sê: "NOU knoop jy dit nés jy dit voorheen geknoop het: onontknoopbaar!
"Die verskil is, nou is jou knoop 'n las en hy is waar en hoe JY hom wil hê. Jy knoop hom nie nou om 'n poespas van losgoed bymekaar te probeer dwing nie. Jy knoop hom nou om jou TOU aanmekaar te hou.
"So gaan dit met 'n mens se energie, aandag, omgee, belangstelling, doen en late ... alles wat van jou en jou lewe JY maak. Laat toe dat jou tou gebruik word om losgoed – boonop dikwels ander se losgoed – bymekaar te hou, en kyk hoe jou heilige energie en omgee – en mettertyd jou lewe – geknoop word dat jy daai knoop nie kan losmaak nie. En dan sit jy, soos hier, met 'n vrag en 'n tou waarmee jy niks kan doen nie, behalwe om jouself gedaan te stoei sonder einde.
"En dis hoekom jy 'n skerp byl naby moet hou: waar jou tou te styf raak en die knoop te vas, hak jy eenvoudig die knoop deur sodat jy jou tou kan terugkry, al kos dit partykeer 'n direkte, blitsige hou met 'n geniepsige byl.
"Nou toe, knoop 'n las in daai tou dat ons kan aflaai; genoeg haakplekke vir een dag!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’