GRAAFF-REINET NUUS - Twee mans is onlangs tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir twee afsonderlike voorvalle van verkragting op Aberdeen en Graaff-Reinet.
Op 7 September is Ashley Hermanus (39) van Graaff-Reinet skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van 'n 10-jarige meisie.
Hermanus het glo die meisie na sy huis toe gelok waar hy haar in 'n slaapkamer seksueel aangerand het. Volgens die polisie was daar drie volwasse vrouens in die huis wat Hermanus op heterdaad betrap het.
Kaptein Wena Theron van die polise se GKS-eenheid het gesê dat die meisie na haar verkragting glo met haar lewe gedreig was.
"Die beskuldigde het haar met 'n mes gedreig en gesê hy gaan haar doodmaak as sy enigiets sou sê."En, 'n 34-jarige man van Aberdeen is gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van 'n 13-jarige meisie. Alfredo Du Toit is op 19 September in die Hooggeregshof op Graaff-Reinet skuldig bevind. Tydens die hofverrigtinge is vasgestel dat Du Toit hom op sy 13-jarige slagoffer in 'n oop veld in Lotusville naby 'n begrafplaas gedwing het in aanskoue van twee van haar vriende, 10 en 13 jaar oud.
Daar word geglo dat hy al drie meisies met 'n mes gedreig het.
Die Graaff-Reinet-polisie se familiegeweld-, kinderbeskermings- en seksuele misdryf-eenheid (GKS) het die voorval ondersoek.
Theron het gesê die GKS-eenheid verwelkom die beide uitsprake van die hooggeregshof van 'n lewenslange vonnis in beide gevalle.
Theron het gesê ondersoekbeampte speurkonstabel Valonia Abrahams het onvermoeid en deeglik gewerk om te verseker dat die korrekte getuienisse in die hof aangebied word.
"Dit is 'n groot sukses vir ons speurders waar geregtigheid vir 'n traumatiese oortreding teen 'n kind gedien is," het Theron gesê. Die hoof van die Graaff-Reinet se polisiegroep, Brigadier Rudolph Adolph het ook dié uitsprake van die hof verwelkom.
Adolph het gesê verkragtings, veral dié op minderjariges bly skokwekkend en het die afgelope tyd die hoogte ingeskiet.
"Kinders het die reg om in 'n veilige omgewing te leef en te speel en die gemeenskap moet waaksaam wees en optree teen hierdie euwel."
Hy het gesê die jongste misdaad-statistieke toon geweldige groei in seksuele misdrywes en dat dit stopgesit moet word.
"Die polisie is bereid om aksie te neem indien die slagoffers of ouers van slagoffers na vore sal kom om verklarings af te lê," het Adolph gesê.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'