GRAAFF-REINET NUUS - Laer Volkskool was Sondag 30 Januarie amptelik 100 jaar oud.
As die eerste skool in Kaapland met Afrikaans as sy enigste voertaal, beklee Laer Volkskool 'n besondere plek in die geskiedenis van Kaapland - én Suid-Afrika - se onderwys.
Die skool het deur die jare steeds as 'n baanbreker sy plek op die terrein van die Afrikaanse kultuur konsekwent gehandhaaf.
Volkskool stam af van beroemde voorsate soos die Midland Seminary vir dogters, en die Boy's College.
Aan die einde van 1919 word dr. G von W. Eybers as hoof van die Boy's College aangestel en toe hy Nederlands deur Afrikaans vervang, het die poppe begin dans.
In 1921 word ds. J F Naudé hier bevestig as leraar van die NG kerk en dring daarop aan dat die Taalordonnansie in die Midland Seminary tot sy reg moet kom, want hy het twee skoolgaande dogters gehad.
Ná 'n besoek van die destydse SGO, dr. WJ Viljoen, en sy hoofinspekteur, is besluit dat die ontevredenes 'n skool sal kry waar Engels die voertaal sou wees en dat Afrikaanssprekende kinders in één skool sou saamkom onder hoofskap van dr. G von W. Eybers om in hul moedertaal onderrig te ontvang.
Die noodsaaklikheid van 'n Afrikaanse skool het kort ná die stigting in 1922 duidelik geblyk toe Afrikanerseuns en -dogters van heinde en ver gekom het om onderrig te ontvang - in so 'n mate dat die skool spoedig vergroot moes word.
Die amptelike feesvieringe word van 4 tot 7 Augustus gehou, maar daar sal vanjaar deurlopend verskeie feesgeleenthede aangebied word ter viering van die skool se eeufees.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'