KAROO NUUS - Inwoners van Aberdeen en omstreke is geskok dat Dr Beyers Naude-munisipaliteit al vir 'n geruime tyd doelbewus rioolwater in die Kraairivier laat vloei.
Die ontdekking is op Vrydag 12 Maart gemaak, enkele dae voor Nasionale Waterweek van 15 tot 22 Maart.
Twee lede van die Aberdeen-belastingbetalersvereniging, Hein (Hantie) Marx en Jurgen Strydom, het Vrydag munisipale werkers op heter daad betrap terwyl hulle rioolwater uit 'n tenk in die droë rivier pomp.
Die munisipaliteit het glo gesê hulle kan nie by die riooltenk uitkom om dit leeg te maak nie, omdat die pad met bourommel versper is. Die vereniging het egter vasgestel dat daar 'n alternatiewe pad na die riooltenk is, en tydens 'n ekspedisie om die stand van sake te bepaal, op die skokkende toneel afgekom.
Hein (Hantie) Marx sê die pomp wat die rioolwater ondergronds uit die riooltenk moet pomp is stukkends, en dat die munisipaliteit nou sommer die rioolwater bogronds uitpomp. Hierdie rioolwater vloei dan tot in die Kraairivier.
Dit is duidelik dat die rioolwater al 'n geruime tyd so uitgepomp word aangesien groot poele rioolwater opgedam het en die area bedek is met welige plantegroei ten spyte van die droogte.
Die Nqwebadam se vlak staan op 10,3%. Foto: Corrie van Zyl
Die Kraairivier is tans droog, maar Marx en Strydom spreek hul kommer uit oor die gevare wat die riool in die rivierloop inhou wanneer dit wel reën. Skape wei ook in die omgewing en drink die rioolwater.
By navraag het die Dr Beyers Naude-munisipaliteit se direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, die beeldmateriaal en foto's aangevra, maar tot dusver het die Advertiser nog geen terugvoer ontvang nie.
Pyp bars
Intussen het daar Dinsdag 17:00 'n waterpyp op die hoek van Bell en Van Riebeeck-strate in Aberdeen gebars en water het oor die pad gestroom. Maar, ten spyte daarvan dat inwoner Jane Rademeyer herhaaldelik gepoog het om munisipale werkers op die toneel te kry, is die probleem teen 09:00 Woensdagoggend nog nie aangespreek nie.
Die plantegroei floreer op die rioolwater.
Reënval in Graaff-Reinet
Die heerlike reën wat Sondag oor Graaff-Reinet uitgesak het, gevolg deur 'n wolkbreuk Maandagmiddag, en nog 'n bietjie reën Dinsdagnag, is met groot vreugde in die dorp verwelkom.
Graaff-Reinet inwoner, Thinus Ferreira, het in totaal 40 mm by sy huis in die middedorp gemeet. Volgens sawx.co.za is die Nqwebadam tans 10,3% vol - dit is 0,33% laer as 'n maand gelede. Die munisipaliteit het nie reageer op 'n versoek vir die jongste damvlak nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'