GRAAFF-REINET NUUS - Saterdagaand se storm in Graaff-Reinet het 'n spoor van verwoesting nagelaat.
Volgens die raadslid vir wyk 2, Ricardo Smith, is die munisipaliteit steeds besig om skade in verskillende wyke te herstel.
"Dit was veral die elektriese infrastruktuur wat in die slag gebly het. Kragpale het omgeval en bome het op kraglyne geval," sê Smith. Dele van Graaff-Reinet was lank sonder krag.
Smith sê dat die munisipaliteit die meeste van hierdie skade in sy wyk reeds herstel het, maar dat daar wel straatligte is wat nog herstel moet word. Smith beklemtoon dat die elektriese span werklik hul hande vol het omdat daar soortgelyke skade in talle wyke is.
Gemeenskapsdienste se span het reeds Sondag begin om bome wat omgewaai het te verwyder, maar teen Dinsdag was hulle nog nie klaar nie omdat soveel bome in die slag gebly het.
"Bome wat op elektriese lyne geval het en ook bome wat paaie versper het is al verwyder," sê Smith.
Benewens die skade aan die munisipale infrastruktuur was daar ook groot skade aan privaat wonings - bome het op mense se heinings geval en sommige huise het oorstroom. Alhoewel die storm van korte duur was, het dit 'n enorme impak gehad.
'n Huis in Presidentstraat, wyk 4, het heeltemal oorstroom. Foto: Sharmein Visagie
'n Boom in Kudustraat in wyk 4 het omgeval en die pad versper.Foto: Barbara Vaaltyn
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'