CRADOCK NUUS - Die Verenigde Gereformeerde Kerk Immanuel in die Michausdal-wyk het onlangs 'n Koppie vir Kanker-dag aangebied om fondse in te samel vir mense wat geraak word deur die siekte.
Hooforganiseerder Jasmine van Wyk sê die tee dien ook om bewusmaking te skep. "Dit is die gebruik van ons kerk om elke jaar 'n tee te hou wat mense meer bewus maak van kanker.
By die geleentheid moedig ons ook vroue aan om na hul gesondheid te kyk. Ek was die organiseerder en het alles saam met 'n paar ander dames gereël," sê Van Wyk. Hierdie jaar was die tema 'hoop'.
Gasspereker Hanri Janse van Rensburg het geïnspireer met haar ongelooflike verhaal van oorlewing en kankerpasiënt Charlene McClune het haar huidige stryd met gaste gedeel.
Darylene Froelich het vertel hoe sy haar ma aan kanker afgestaan het en gepraat oor die effek wat die siekte en verlies op hul as familie gehad het en steeds het.
Eregas Natasha van Wyk het al die pad van Kaapstad gereis om haar boodskap van hoop te bring. Haar man, FC, was seremoniemeester.
"Hierdie jaar het ons besluit om 'n skenking te gee aan die CHOC Foundation in Kaapstad, dit is die organisasie wat kinders met kanker ondersteun. Hierdie organisasie bedryf ook gastehuise waar ouers van kankerlyers kan bly wanneer hul kinders vir behandeling na Kaapstad gaan. Ons was bevoorreg om R12 000 vir hierdie instansie in te samel," vertel Van Wyk.
'Ons bring jou die nuutsts Cradock, Karoo nuus'