CRADOCK NUUS - DA-parlementslid, en Oos-Kaap Middellande kiesafdelingleier vir Cradock en Middelburg, Kobus Botha, het op 1 Junie 'n versoek aan die Oos-Kaapse departement van koöperatiewe bestuur en tradisionele sake gerig vir die ingryping, om die Inxuba Yethemba-munisipaliteit se goedgekeurde begroting van 31 Mei, te ondersoek.
"Terwyl die mense in die dorpe wat ressorteer onder dié munisipaliteit ervaar hoe dienslewering agteruitgaan, is daar 'n begroting van R1,4 miljoen vir twee luukse voertuie, een vir die burgemeester en een vir die speaker, goedgekeur. Dit terwyl daar 'n agterstallige Eskom-rekening van meer as R435 miljoen is. Dié munisipale raad beplan uitgawes van miljoene rande aan salarisverhogings, terwyl werkloosheid aan die styg is," sê Botha.
Hy sê ook dat daar geen geleentheid aan raadslede gegun is om te stem oor dié begroting nie. "Die DA se versoek vir 'n verdeling van die raadslede se stem op die begroting, is bloot van die hand gewys."
Volgens Botha ervaar inwoners van die munisipaliteit ernstige watertekorte, kragonderbrekings en interne munisipale paaie is vol slaggate. Ander munisipale dienste soos vullisverwydering, straatligte wat nie werk nie en onwettige storting van vullis is ook aan die orde van die dag, "geen munisipale beamptes word verantwoordelik gehou vir die swak dienslewering nie," sê hy. Slegs 4% vir dié 2023/2024- begroting is aan onderhoud en herstelwerk beskikbaar gestel, wat ook 'n groot bekommernis vir Botha is.
'n Inwoner van Cradock het 'n video op sosiale media versprei wat wys hoe rou riool, wat die verantwoordelikheid van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit is, in Cawoordstraat vloei. Sy stap daagliks in die straat werk toe en sê dat dit al vir lank so aangaan.
Botha sê dat die goedgekeurde begroting baie vrae laat ontstaan en dat die elektrisiteitstariefverhoging van 15% geweldig hoog is en 'n negatiewe invloed op inwoners se eie begroting gaan hê.
Hierdie begroting is volgens die provinsiale tesourier, Joyce Ntsinga, slegs goedgekeur nadat daar 'n paar herberekenings deur dié departement gedoen is.
"Volgens hierdie begroting sal die herberekenings gefinansier moet word uit 'n verhoging in belastingopgawes. 'n Verhoging van 61,3% in ingevorderde eiendomsbelasting word in die vooruitsig gestel, rente op agterstallige belastings sal voortaan teen 31% gehef word en elektrisiteitsdiensfooie sal met 'n volle 91,3% verhoog word. Inxuba Yethamba het slegs 'n 54% invorderingsgemiddeld behaal in die onlangse verlede," deel Ntsinga mee.
Botha sê dat hy hierdie aangeleenthede skriftelik na die DA se Oos-Kaapse skaduminister vir koöperatiewe bestuur en tradisionele sake (COGTA), dr. Vicky Knoetze, verwys het sodat dié aangeleenthede aan COGTA minister van Oos-Kaap, Zolile Williams, voorgelê kan word. Hy beplan ook 'n vergadering met die munisipaliteit se topbestuur en raadslede, saam met Knoetze en Williams.
Graaff-Reinet Advertiser het Vrydagoggend, 8 Junie, met die munisipale bestuurder, Mkhululi Whitey Mbebe gesels. Hy kon egter nie met die Advertiser oor die begroting gesels nie omdat sy kantoor onder assessering is. Hy het ook die telefoniese afspraak later die dag om 13:00, nie nagekom nie.
Botha het gesê hy het geen terugvoering vanaf COGTA, rondom sy versoek vir ingryping oor die munisipaliteit se begroting en swak dienslewering, ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’