GRAAFF-REINET NUUS - Maak sommer nou al 'n knoop in jou oor om seker te maak jy onthou van die Pink Trees for Pauline-geleentheid wat volgende Saterdagoggend, 20 Oktober, in Graaff-Reinet plaasvind.
Dié gewilde fondsinsamelingsinisiatief is om die draai en beloof om, soos in die verlede, hope pret te wees.
Vir dié jaar se geleentheid, beplan die organiseerders 'n pienk staptog vanaf die Robert Sobukwe-gebou in Kollegeweg, af in Kerkstraat, tot voor die Polka- en Our Yard-restaurante in Somersetstraat.
Wat dié staptog net nog méér pret gaan maak is die vlotte wat voor al die stappers die strate af gaan ry.
Kreatiewe skeppings
Die vlot-kompetisie is 'n nuwe inisiatief wat onlangs deur die reëlingskomitee van stapel gestuur is.
Graaff-Reinetters word uitgedaag om 'n kreatiewe vlot te bou vir die geleentheid - die inskrywing van 'n vlot is gratis en staan diegene wie se vlot as die beste skepping aangewys word, die kans om met R3 000 in prysgeld weg te stap.
Daar is nog tyd om in te skryf hiervoor - vorms kan by Our Yard afgehaal word. Vlotte kan bestaan uit 'n skepping wat jy self ontwerp en gebou het, of uit 'n versierde voertuig. Spanne kan inskryf as 'n groep, 'n individu of 'n besigheid.
Pienk passie
Diegene wat inskryf vir die geleentheid se pienk staptog - die 'Crazy Pink Walk' - word aangemoedig om hul stapskoene aan te trek, in pienk te klee en hulself gereed te maak vir 'n geesdriftige stap deur Graaff-Reinet.
Die inskrywingsfooi vir die stap beloop R20 per persoon (18 en ouer) en R10 vir kinders 17 of jonger.
Inskrywingsvorms vir die staptog kan ook by Our Yard afgehaal word.
'n Feestelike affêre
Met die aankoms van die vlotte en stappers aan die einde van die 'Crazy Pink Walk' in Somersetstraat gaan daar in 'n feestelike luim in dié straat saam gekuier word.
Die gewilde Our Yard 'Food Court' gaan sorg vir heerlike eetgoed, terwyl Marc Anthony almal teenwoordig met musiek sal vermaak en 'n groep dansers 'n lyndans-demonstrasie sal aanbied.
Verskeie geluks-trekkings deur die loop van die oggend gaan ook van sommige van die stappers wenners maak.
Oulik!
Om die kleinspan te vermaak word daar ook 'n Koekedoortjie-kompetisie aangebied.
Kinders tussen die ouderdom van 2 en 13 kan hiervoor inskryf. Kostes beloop R20 per inskrywing - vorms kan afgehaal word by Our Yard.
Spertyd vir inskrywings
Alle inskrywings - vir die staptog, die vlot-kompetisie en die Koekedoortjie-kompetisie - moet weer teen 17 Oktober aan Our Yard, geleë te 50 Somersetraat, terugbesorg word. Dit kan ook per e-pos aan admin@ouryard.co.za aangestuur word.
Vir verdere inligting rondom al die reëlings, skakel vir André van Rensburg by 071 870 5081 of 049 891 0337.
Vir 'n goeie doel
Dié inisiatief word ten bate van die Graaff-Reinet Kankervereniging aangebied. Graaff-Reinetters word aangemoedig om dit te ondersteun en só 'n verskil te maak en jou ondersteuning vir die goeie doel te wys.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'