RUBRIEK - In die maand van Februarie is dit paslik om Klaas Niemandt te vra oor Cupido en die liefde.
Oom Klaas gee my eers 'n wilde kyk en draai dan sy kop in die rigting van sy bakkie onder die boom en beduie met die oë, kop en nek daarheen: "Jong, laat ons tog nou maar nie praat oor die liefde en verhoudings nie. Daai is nie goed vir praat nie, man."
Liefde is 'n konstante reeks aksies - jy leef hom of jy leef hom níé.
"Kom ek vertel jou eerder van daai klein spieëltjie in my bakkie se kantspieëltjie.
"Iewers in die vorige eeu het iemand so 'n poetsige kontrêpsie uitgevind vir voertuigbestuurders wat sukkel om hulle nekke te draai. Mmm, dis so 'n klein snaakse spieëltjie wat jy in jou bakkie se kantspieëltjie plak en dan, as jy daarin loer, dan sien jy sommer álles met daai selfde oë van jou wat die bemarkers jou maak glo jy nie mee kan sien sonder daai spieëltjie nie. Want elke mens het mos dan nou sy blindekolle.
Blindekolle maak ongelukke gebeur, seg hulle.
"Maar dit is nie waar nie.
"Blindekolle veroorsaak nie ongelukke nie. Dis die mens se blindekol vir sy blindekolle wat die ongelukke laat gebeur. Wat hulle nie vir jou sê nie, is jy kan jou helige voertuig van daai spieëltjies beplak, maar as jy nie in een van hulle kyk nie, want jy dink jy sien buitendien alles, dan bly daai blindekol presies net wat hy is: 'n kol wat jy nie sien nie. En dan ry jy nog steeds in alles vas waarin jy nie moet vasry nie en dan gee jy nog steeds almal en alles anders skuld, né - ja.
"Nou, só gaan dit ook in liefdesverhoudings. Pasop vir die een wat 'n blindekol vir sy eie blindekolle het, hoor. 'n Verhouding met so 'n mens is dikwels 'n ongeluk wat wag om te gebeur; en dikwels is dit 'n noodlottige verhoudingsongeluk.
"Kyk, in 'n verhouding is daar gereeld een wat reg is en een wat verkeerd is. Nou, as die een wat verkeerd is, self besef hy is verkeerd, dan kan 'n mens mos regmaak. Maar as jy nie jou eie verkeerdheid raaksien nie, hoe sal jy wat verkeerd is, kan regmaak? As jy vas glo jy dra jou geliefde op die hande, dan sal jy mos net doen wat jy doen en niks meer of anders nie. As jy vas glo jy is die perfekte, geskikte lewensmaat, dan gaan jy mos net aangaan soos jy aangekom het. En dan, as jy vertel word jy kan sus of só beter doen, is die vraag: sien jyself dit ook so in, of gaan jy reken die ander persoon is verkeerd of onbillik?
"Vir die maand van die liefde sê ek jou: gebruik jou blindekolspieëltjies, hoor jy.
Oom Klaas beduie ek moet aanstaltes maak; hy wil aangaan met sy werk. So met my opstaan van my klip af, gee hy die nagedagte: "Moeilikste vraag is natuurlik wat maak jy as jy in jou blindekolspieëltjie kyk en sien die ander een het 'n blindekol vir blindekolle? En dis die liefde vir jou: jy leef hom of jy leef hom nie."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'