GRAAFF-REINET NUUS - Die NG Gemeente Graaff-Reinet se begraafplaas in Springbokstraat, Sunnyside, is nie meer 'n seeroog vir die gemeenskap nie, nadat daarvan werk gemaak is om die area op te kikker. Dít is tussen 18 en 23 November gedoen, deur die sipresbome af te saag.
Volgens die projekleier, Otto Sparrius, is die bome deur plantluise aangeval, wat die bome laat vrek het. Die kerkraad het dit goedgedink om die dooie bome af te saag. Sparrius sê die projek het baie sweet en gebed vereis. "Daar moes heel kundig te werk gegaan word om nie die grafte te beskadig nie."
Sparrius en die ander lede van die kerk se eiendomskommissie het aangedui dat die gemeenskap welkom is om van die bome se hout te kry vir persoonlike gebruik. Die nodige respek moet net betoon word aan die grafte. In die verlede was daar 'n dammetjie en kraan waarvan water verkry kon word vir grafblomme.
Die kraan is intussen verwyder weens vandalisme.
Die netjiese begraafplaas, soos dit nou lyk. Foto: Christo Vermaak
"Die begraafplaas loop erg deur onder vandalisme en die heining voor is ook reeds afgesteel," het Sparius verduidelik. "Daar is dus vrye toegang tot die begraafplaas met geen toegangsbeheer. Die heining is voorheen teen groot koste vervang. Van die grafte is ook al beskadig."
Die begraafplaas word tog gereeld skoongemaak. "Daar is wel minder bossies as gevolg van die waternood," het Sparrius bygevoeg.
Die NG Kerk begraafplaas voor die sipresbome afgesaag is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'