CRADOCK NUUS - Besoekers van oor die land het die afgelope naweek die Karoo-kosfees besoek.
Verrigtinge het reeds Vrydagaand 'n aanvang geneem toe talle stalletjies op die stoepe van die Tuishuise in Markstraat lekkernye te koop aangebied het.
Markstraat was gesluit vir die aand en toegang is gekontroleer, sodat slegs besoekers met toegangsbandjies die stalletjies kon besoek. Victoria Manor het ook hul sekerheidspersoneel beskikbaar gestel.
"Van 07:00 Saterdagoggend het sowat 70 uitstallers by Jenkins Creek opgedaag om hul stalletjies in te rig, voordat honderde besoekers vanaf 09:00 opgedaag het," vertel Christine Pieterse, hooforganiseerder op die terrein.
"SPAR Cradock het ook moeite gedoen om die terrein te merk met vlae en het op groot skaal voorsorg teen besoedeling getref deur vullisdromme oral op die terreine te sit. Uitstallers is ook voortydig gemaan om nie enigsins van plastiese sakkies gebruik te maak nie."
Drie vlakke by Jenkins Creek was ingerig om stalletjies te akkommodeer en al die terreine was ten volle bespreek.
"Uitstallers berig uitstekende verkope en 'n puik gees het geheers. Talle stalletjie-eienaars vertel dat hul lanklaas so lekker met feesgangers kon kuier. Feesgangers van sover as Pretoria het na Cradock gereis vir hierdie Karookos-hoogtepunt van hul jaar," vertel Lisa Ker van Vic Manor en Tuishuise. Sy is ook deel van die span wat die fees georganiseer het.
"Die terrein was ook rolstoelvriendelik en talle persone met gestremdhede het heerlik saamgeproe."
Die Karoo-kosfees het Sondagmiddag ten einde geloop.
Hierdie jaarlikse geleentheid bring ongelooflike ekonomiese groei in Cradock en omliggende dorpe mee.
Splendid Karoo se stalletjie.
Feesgangers tydens die Karoo-kosfees.
Die Karoo-Kosfees was vanjaar 'n reusesukses. Foto's: Teresa Opperman
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'