KAROO NUUS - Karoo-kinders en oud-onderwysers Avril (59) en Gregg Hood (60) verruil hierdie week hul woning in Brelerstraat, Spandauville, vir 'n nuwe uitdaging in Port-Elizabeth.
Die paartjie, wat in 1983 ontmoet het as onderwysers by Kroonvale Primêr in Graaff-Reinet, sê om hulle wortels uit te trek is nie sonder heimwee en hartseer nie.
"Graaff-Reinet was goed vir ons ouers, goed vir ons, en goed vir ons kinders," vertel Gregg in die paartjie se kombuis. Die sitkamer is reeds in netjies-gemerkte bokse gestoor. "Graaff-Reinet het ons grootgemaak," deel Avril, wat oorspronklik van Nieu-Bethesda is.
Kleindogter Hailey Williams (6) is baie opgewonde oor ouma en oupa se trek Baai toe, aangesien hulle nou meer tyd met haar sal spandeer. "Sy het gebid vir ons om te trek," lag die paartjie. Hulle verhuis ook Port-Elizabeth toe om nader aan dokters te wees, weens gesondheidsredes.
"Ons wil graag die gemeenskap van Graaff-Reinet bedank vir hulle liefde en bystand oor die afgelope jare. Ons gaan ons vriende en wonderlike bure mis."
Die paartjie sal wel gereeld kom kuier, aangesien hul ouers se grafte in Graaff-Reinet is. Hulle sal ook nou en dan 'n draai maak om Karoo-vleis te koop.
"Gryp aan wat Graaff-Reinet vir jou bied," is Gregg se raad aan die jong mense van die dorp. "En wees lief vir jouself voor jy lief is vir ander," sê Avril.
Avril en Gregg Hood buite Breslerstraat 15.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'