SUID-KAAP NUUS - Die Kanna-benoemings is na die afloop van vanjaar se KKNK bekendgemaak. Koningin Lear, ’n eietydse herverbeelding van Shakespeare se King Lear, neem die voortou met 10 benoemings in sewe kategorieë vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kanna-pryse in 2019.
Die Kannas word jaarliks toegeken vir uitnemende werk wat by dié fees te sien was.
Naas die Vlaamse skrywer Tom Lanoye se epiese Koningin Lear, wat onder meer skerp kommentaar lewer op die magsug in die hedendaagse sakewêreld, het ander debuutproduksies van die fees ook talle benoemings gekry: Athol Fugard se Statements After an Arrest under the Immorality Act het vyf benoemings ontvang en die familieproduksie Jakkals en Wolf Onbeperk het drie benoemings ontvang.
Volgens Mareli Stolp, sameroeper van die Kannapaneel, was KKNK25 ’n uitsonderlike fees. “Wat veral opvallend was, was die omvattendheid van die feesaanbiedinge in alle genres - kuns, musiek en teater. Temas so divers soos magswaan, grondbesit, seksuele geweld, dwelmverslawing en apartheid-era ongeregtigheid is aangespreek, maar daar was natuurlik ook meer as genoeg vir lekker lag - in hysbakke, agtertuine en kroeë. En tussendeur is daar voete gestamp op musiek van Koos Kombuis tot Miriam Makeba. Die KKNK kan met trots terugkyk op 25 jaar van uitnemendheid en die fees se gehalte en kwaliteit maak mens opgewonde oor dié fees se toekoms,” sê Stolp.
Vanjaar se Kanna-paneel was Stolp, Diane de Beer, Rafiek Mammom, Tracey Saunders, Wayne Muller, Alby Michaels, Lizabé Lambrechts en Gary Naidoo.
Die wenners van die Kannas word op Maandag 15 April by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad aangekondig. ’n Kanna vir beste tegniese prestasie en bydrae tot die fees word tydens die funksie oorhandig.Antoinette Kellerman in Koningin Lear.
Die volledige lys van benoemdes is:
Beste teateraanbieding:
- Bloed en Bodem, Koningin Lear en Statements After an Arrest under the Immorality Act
Beste debuutwerk:
- Koningin Lear,
- Lovers, Dogs and Rainbows
- Statements After an Arrest under the Immorality Act
Beste musiekproduksie:
- My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi,
- The Lady Day Big Band presents The South African Songbook
- Woorde op Akkoorde
Beste bydrae tot visuele kuns:
- Binary Opposites,
- Harmonia: Sacred Geometry, the pattern of existence,
- Imagining Tomorrow
Beste regie:
- Amelda Brand (Jakkals en Wolf Onbeperk)
- Iman Isaacs en Raezeen Wentworth (Klippies van die grond)
- Marthinus Basson (Koningin Lear)
Beste opkomende kunstenaar:
- Devonecia Swartz (Jakkals en Wolf Onbeperk)
- Jolyn Philips (Woorde op akkoorde)
- Wian Taljaard (Jakkals en Wolf Onbeperk)
Beste teaterontwerp:
- Marthinus Basson (Koningin Lear)
- Rudi van der Merwe (Lovers, Dogs and Rainbows)
- Wolf Britz (Statements After an Arrest under the Immorality Act)
Beste akteur:
- Carlo Daniels (Klippies van die grond)
- Craig Morris (Johnny Boskak voel ’n bietjie...)
- Marlo Minnaar (Statements After an Arrest under the Immorality Act)
Beste aktrise:
- Antoinette Kellermann (Koningin Lear)
- Liezl de Kock (Statements After an Arrest under the Immorality Act)
- Tinarie van Wyk Loots (Katvoet)
Beste manlike byspeler:
- André Roothman, Edwin van der Walt en Wilhelm van der Walt (Koningin Lear)
Beste vroulike byspeler:
- Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais (Koningin Lear)
- Marion Holm (Katvoet)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'