ABERDEEN NUUS - 38 jaar gelede het sy vir die eerste keer van die een punt van Aberdeen na amper die ander punt van die dorp gestap: skool toe. Haar vertrekpunt: haar huis; haar bestemming: Kamdebo Primêr - nie as leerling nie, maar as onderwyser.
Op 30 November vanjaar het Susan Margaret Syffers amptelik haar aftrede letterlik tegemoet gestap.
Op 7 Desember het die personeel en die Studente Beheerliggaam (SBL) van Kamdebo Primêr vir Juffrou Susan, soos almal haar ken, bedank en gegroet tydens 'n plegtigheid gehou by Kamdebo-padstal. Om die geleentheid selfs meer sier en swier en pret te verleen, is die personeel en SBL in spanne gedeel en het elke span in ooreenstemming met die span se kleur opgetooi en opgedaag – van die kleur van die voertuie tot by kleredrag en piekniekmandjies. Soveel glans in kleure swart, wit, blou, groen en geel het Aberdeen in geen jare beleef nie.
Die geleentheid is geopen met gebed en daarna het Daniel Pieterse, skoolhoof, 'n toespraak gelewer, gewy aan Syffers se onderwysroeping. Pieterse het Syffers bedank vir haar toewyding en die voorbeeld wat sy gestel het.
"Daardie spontane, aansteeklike laggie sal nog lank in die gange van ons skool bly hang. Om te kan lag ten spyte van watter uitdagings ook al, sal ons bybly."
Pieterse het ook opgemerk hoe merkwaardig dit is dat Syffers ál die jare, deur al die seisoene, skool toe en terug gestap het. Nie die Karooson, -wind, hitte, koue of reënbuie het haar ooit laat afwyk van haar staproetine nie. "Dit bly vir ons almal 'n voorbeeld en inspirasie … merkwaardig hoe die Here vir Syffers al die jare met die stappery beskerm en opgepas het; kompleet bewys dat Hy self elke dag saam met haar gestap het."
Danie Pienaar het 'n heildronk op Syffers ingestel en ook 'n ode aan haar gelewer vir haar jare lange diens. Tydens die sertifikaatseremonie is 'n prestige toekenningsertifikaat aan Syffers oorhandig.
Sy het die personeel gegroet met 'n boodskap om te onthou dat respek die kern van onderwys vorm. Respek – van selfrespek tot respek vir elke kind, kollega, ouer, SBL-lid, tewens elke rolspeler – is noodsaaklik. Sy het ook beklemtoon: "Onderwys kan nooit 'n beroep wees – dit bly 'n roeping."
Personeel in ligte luim.
Pragtig gedekte tafels het die geleentheid afgerond.
Daniel Pieterse tydens sy toespraak. Foto's: Alex Lombaard
Die prestige toekenningsertifikaat. Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'