GRAAFF-REINET NUUS - Vier mense is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering besig was om elektriese toerusting te beskadig en kabels te steel.
Volgens 'n verklaring wat deur die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit op hul Facebook-blad geplaas is, het sekerheidswagte hulle onderbreek.
"'n Fisiese bakleiery het ontstaan en een van die vermeende diewe het beserings opgedoen. Hy het homself later aan die munisipale sekerheidswag in die hospitaal oorhandig," lui die verklaring.
Die omvang van skade by die oordragstasie is deur die bestuurder van die elektriesedepartement ondersoek, en die finansiële verlies vir die munisipaliteit is kommerwekkend.
"Die herstelwerk en vervanging van toerusting kan nie voortdurend kan plaasvind nie. Die vensterruite en deur van die kamer waar die sekerheidswagte is, sal ook vervang moet word. Indien hierdie individue skuldig bevind word, staar hulle vonnisse van tot 15 jaar in die gesig."
Die munisipaliteit het inwoners aangemoedig om buurtwagte te stig en saam ook na munisipale eiendom om te sien en kriminele bedrywighede aan te meld. Dit was egter nie die eerste voorval van kabeldiefstal nie.
Verlede Dinsdagaand het Graaff-Reint ook onder die hande van kabeldiewe deurgeloop. Kort nadat die elektrisiteit weer aangekom het na beurtkrag, was dele van Kroonvale, Mandela Park, Santaville, Selfbou en Sunnyside weer in die donker. Met ondersoek het die munisipaliteit vasgestel dat iemand probeer het om ‘n elektriese kabel by die substasie in Vinkstraat in Wyk 4 af te saag.
‘n Inwoner van Wyk 4 het die raadslid in kennis gestel dat hulle iemand kon hoor rondkrap by die substasie.
“Hier het nou iets kliphard geskiet en nou brand dit,” het die inwoner verder rapporteer.
Volgens die munisipaliteit was die kabeldiewe duidelik nog besig om die kabel af te saag toe die krag weer aangekom het en daarom het dit ontplof en vlam gevat.
Die drastiese toename in kabeldiefstal in Graaff-Reinet is kommerwekkend. Nie alleen het dit ‘n geweldige negatiewe impak op elektrisiteitsvoorsiening nie, dit kan duidelik ook noodlottige gevolge hê. Inwoners word aangemoedig om na vore te kom indien hulle enige inligting het wat kan help om diegene wat betrokke is by kabeldiefstal vas te trek.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'