ABERDEEN NUUS - Daar is ‘n klaskamer in Kamdebo Primêr in Lotusville, Aberdeen wat ‘n mens nie wil verlaat as jy dit eers betree het nie. Dit is nie net vrolik en verwelkomend nie, nee, daar is iets anders, iets bekend - dit laat ‘n mens geborge voel. Perfek georden en tog huislik.
Die klas is getooi in bye en sonneblomme en die Engelse-woordspelings op bekende by-verwante uitdrukkings is inspirerend. Dit is die klaskamer - onder die leerlinge bekend as die byekorf - van Kelly Februarie, oftewel Juffrou Bytjie, die skool se nuwe departementshoof van die grondslagfase.
Kelly het op 14 Januarie maar 26 jaar oud geword en is departmentshoof na minder as drie jaar in die onderwys.
Sy het in Januarie 2022 begin waarneem in die pos, met 'n vaste aanstelling op 1 Desember 2022. Haar onderwysloopbaan het in Januarie 2020 begin by Kamdebo Primêr as grondslagfase-onderwyser. Sy sê sy voel geroepe tot die grondslagfase, want dít is waar ‘n verskil gemaak kan word.
“Maar, ek moet darem sê onderwys is in my bloed. My pa was vir 29 jaar lank ‘n skoolhoof en dan is ons huidige skoolhoof, Daniël Pieterse, self ‘n voorbeeld en toonaangewer,” vertel Kelly.
Soos Pieterse is Kelly ook ‘n gebore en getoë Aberdener, en net soos hy het sy onderwys gaan studeer en teruggekom om die jonger geslag te help opvoed.
Kelly is die laatlam van vier kinders van pa Johannes en ma Bernadette. Met ‘n vlietende skaduwee in die oë sê Kelly dit sou lekker gewees het as haar pa ook hierdie prestasie van haar kon meemaak, maar hy is op 26 Desember 2014, aan die einde van haar matriekjaar, in ‘n motorongeluk oorlede.
“Maar ek is geseënd met ‘n ma soos myne. Sy is my grootste biddende rolmodel en is daar elke tree van my lewe - die beste ouer waarvoor enige kind kan vra.”
“Hou by die Blou; die Blou is getrou,” sê Kelly in ligte luim oor Kamdebo Primêr waar sy haar laerskoolloopbaan voltooi het “... en mnr. Pieterse was my gr. 7-onderwyser terwyl ek die hoofdogter was. Om te dink vandag sit ek saam met hom om ‘n onderwyserstafel - wat ‘n voorreg.”
Sy het in Graaff-Reinet by Hoër Volkskool gematrikuleer. In 2015 het sy ‘n jaarkursus in besigheidsbeginsels en -praktyk voltooi. Daarná, in 2016, het sy vir haar onderwysgraad ingeskryf by Varsity College in Gqeberha. “Dit was ‘n uitdaging, want ons jaargroep was die eerste om dié studierigting daar te volg.” Sy het die kursus aan die einde van 2019 voltooi.
“Die ergste vir my was om in 2020 met soveel hoop en ideale hier te begin en skaars drie maande later tref die pandemie ons. O, absoluut alles moes mos verander! Ek is net dankbaar ons is daardeur.”
Kelly is doelgerig en het haar volgende uitdaging reeds in die visier. “By die einde van 2028 wil ek klaar wees met my honneursgraad.” Die juffrou se dinamiese sprankel-persoonlikheid laat ‘n mens noodwendig wonder oor haar inspirasie.
“Jeremia 29:11 – Die Here weet wat Hy vir ons beplan – voorspoed, ‘n toekoms en ‘n verwagting. Dít is my inspirasie.”
Besige "bytjies" word vroeg al geleer om positief te wees.
Kelly Februarie se klaskamer, oftewel Die Byekorf. Foto’s: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'