Gallery
SUID-KAAP NUUS - 18 ywerige jong jagters het gedurende hierdie skoolvakansie agt dae op 'n pragtige wildsplaas in die Noord-Kaapse Kalahari gekamp om die laaste gedeelte van hul opleidingskursus, aangebied deur die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB), te voltooi.
Die groep van 18 studente het reeds as laerskoolleerders die veldskool oor ‘n periode van drie dae asook die skietkliniek oor ‘n periode van vier dae onder bekwame en entoesiastiese opleidingsbeamptes deurloop. Hierdie laaste gedeelte van die opleidingskursus bied geleentheid aan elke student om onder mentorskap sy voorsitplek te kon kies en voorberei, sy eie springbok te skiet, reg te ontwei, af te slag, uitmekaar te maak en die leerskool van vleisbewerking te kan ervaar.
Kursusmateriaal omsluit die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die bewerkte vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om ‘n gesellige kameeldoringvuur, deel van die opleiding uitmaak.
Daar is vir agt dae in die veld gekamp, in tente geslaap, vanuit ‘n veldkombuis geleef en brode in ‘n sandoond gebak. Die studente was aktief betrokke by kosmaak en opruim. Die 18 springbokke wat deur die studente geskiet is, is (soos in die ou dae) onder ‘n kameeldoringboom afgeslag en verwerk tot heerlike boerewors.
Die veilige en oordeelkundige hantering van ‘n vuurwapen vorm ‘n integrale deel van die opleiding. Elke seun moes kwalifiseer sodat sy skietvernuf op standaard was voordat hulle toegelaat is tot die jagveld.
Met suksesvolle voltooiïng van die kursus word die CHASA-sertifikaat (Jagterskonfederasie van Suid-Afrika) verwerf waarna geregistreer kan word as toegewyde jagter.
Vir inligting rakende junior opleiding kan die SJB-kantoor in Voorbaai, Mosselbaai geskakel word (044 695 2319). Kantoorure is weeksdae vanaf 09:00 tot 13:00.
Eerbetoning aan Neels Meyer
Die Jagterskonfederasie van Suid-Afrika (CHASA) het die volgende persvrystelling oor Neels Meyer gestuur.
"Wat sal CHASA van Neel Meyer onthou in die 13 jaar wat hy op die raad gedien het en betrokke was? Neels was ‘n uitstekende leier vir sy
organisasie, Suid-Kaap Jagters wat hy sistematies oor die jare opgebou het en gedien het met sy hele wese. Sy leierseienskappe en passie wat hy
vir die natuurlewe en veral junior jagters gehad het, was uitstaande.
"Hy beklee ook die amp as portefeuljebestuurder vir junior jagters op die raad van CHASA wat hy met uitnemendheid vervul. Uit sy hand het ‘n CHASA Junior Jagters Handleiding, vir junior en senior leerders die lig gesien asook verskeie DVD’s wat handel oor junior jagteropleiding en
veldkuns wat deur verskeie lidverenigings gebruik word.
"Geen wonder dat Suid-Kaap Jagters se junior skietspanne verskeie kere as die beste junior span op die CHASA jaarlikse intervereniging skietkompetisie in die junior afdeling aangewys is nie.
"Neels ons as CHASA eer jou en jou gade vir jou bydrae wat jy vir jou medejagters beteken het. Geniet jou uittrede!"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'