JANSENVILLE NUUS - Na byna 37 jaar in die onderwys het die skoolhoof van Jansenville Primêr, Nicky Wevers, beter bekend as Dok onder Jansenvillers, op 31 Mei finaal sy hoed opgehang.
Verskeie rolspelers, skoolhoofde van die Baviaans-onderwyskring, skoolbeheerliggaam en personeel het die afskeid, wat oor 'n week gestrek het, bygewoon.
Die finale afskeid is met 'n dankseggings-byeenkoms by die skool saam met leerders en onderwysers gehou.
Dit was vir leerders, onderwysers, ouers en kollegas, 'n hartseer dag, want luister jy so na al die stemboodskappe, was Wevers 'n geliefde meester.
Van die boodskappe lees: "Meneer se teenwoordigheid het 'n impak op elke deel van die skool gemaak" en "Meneer het 'n koesterende rol gespeel in die ontwikkeling van ons persoonlikhede," lees 'n ander boodskap.
Wevers het in Jansenville grootgeword en in 1982 by Bridgton Sekondêr in Oudtshoorn gematrikuleer. In 1985 voltooi hy sy diploma in onderwys aan die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland in Oudtshoorn. In 1986 keer hy terug na sy tuisdorp en gee onderwys by Jansenville Primêr. Van 2002 tot 2007 dien hy as onderhoof van Bedford Primêr en in 2007 aanvaar hy 'n pos as hoof by Hoërskool Karel du Toit in Steytlerville. In 2009 keer hy weer terug na Jansenville as onderhoof by Jansenville Primêr waar hy in 2012 as skoolhoof aangestel is.
Hy het nog altyd 'n passie vir kinders met leeruitdagings gehad en is dit ook die passie wat hom aangespoor het om sy doktorsgraad in remediërende onderrig in 2012 aan die Nelson Mandela Universiteit te verwerf. Vir sy doktorsgraad skryf hy 'n tesis wat talle aanbevelings aan die departement van onderwys rig rakende onderrig.
Hy vertel dat hy drie geslagte na mekaar in sy tyd as onderwyser onderrig het. "Ek het later die kleinkinders van my eerste leerders onderrig. Jare en jare, kinders na kinders en ouers na ouers is in my 37 jaar deur my onderrig," sê Wevers.
Wevers vertel dat hy al vyf keer wou aftree, maar elke keer aangebly het, die vyfde keer het hy vasgestaan. "Dit was baie emosioneel om my laaste dag by die skool deur die kinders se erewag te stap. Om hulle agter te laat is baie swaar. Ek het goeie verhoudings met die kinders," sê Wevers.
Wat hy nou gaan doen in sy aftrede is nog vir hom duister, maar een ding is seker, hy gaan nie gras onder sy voete laat groei nie. Dit is nie moeilik om te sien dat Wevers sommer vinnig 'n blywende indruk op jou maak nie en nog baie spoed het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’