MOLTENO NUUS - "Ons het moedeloos geraak en besluit om self iets te doen." So sê Elize van der Merwe, 'n besigheidsvrou van Molteno, na sy en verskeie inwoners self ingespring het en die dorp begin skoonmaak het.
"Ons strate, sypaadjies en parke het in absolute verwaarlosing verval en oral het stapels met swart plastieksakke tuinvullis en huishoudelike vullis gegroei. Straatkinders en rondloperhonde het snags die sakke oopgeskeur en die gemors het teen dagbreek die strate en sypaadjies vol gelê."
Volgens haar het 'n groep besigheids-eienaars inwoners genader vir hulp en hulle kon die Molteno-skoonmaakprojek van stapel stuur.
"Ons ry nou op gereelde basis swart vuilgoedsakke weg. Inwoners word aangemoedig om hul swart sakke voor 08:00 Vrydagoggende op die sypaadjies neer te sit. Die Molteno-skoonmaakprojek se span laai dit dan daar op. Hulle maak ook alle vullisdromme leeg en maak publieke areas skoon. Die werkers is plaaslike mense en hulle kry 'n betaling vir die dag se werk en ook 'n warm bord kos by Halfpad Padstal. Molteno-inwoners gee 'n maandelikse bydrae en dit word bestuur deur 'n plaaslike rekenmeester."
Van der Merwe sê verder 'n inwoner uit 'n informele nedersetting het hulle ook die afgelope week gekontak en gevra of die skoonmaakspan hulle ook kan help.
"Ons het dus ook Saterdag daar gaan skoonmaak," deel sy opgewonde mee. Haar eggenoot, Pieter, is ook betrokke by die opruimingsaksies.
"Dis vir ons ook baie belangrik dat die ingange en deurroetes deur Molteno skoongehou word, en dit bly 'n opvoeding-staak om mense te leer om hul afval te bestuur."
'n Navraag is aan die munisipaliteit gestuur, maar hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.
Met bydraes van die inwoners is dromme op die sypaadjies neergesit.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Oos-Kaap nuus'