JANSENVILLE NUUS - Huis Welverdiend het Vrydag 'n Vrouweesdag ter viering van Vrouemaand aangebied. Vanaf vroeg in die week is daar gewerskaf om die dag 'n sukses te maak.
Ben Roos, inwoner van Huis Welverdiend, het die binnehof in 'n lushof omskep met sy uitsonderlike talent as landskapontwerper.
Verskeie inwoners het serpe, potjies, juwele, ensovoorts aangedra om die atmosfeer van vrouwees te skep en die personeel het baie hard gewerk om voortreflike eetgoed voor te berei.
Samantha Graham-Maré en Hannatjie Whitlock was uitstekende sprekers wat almal gemotiveer het en weereens laat besef het dat jy steeds positief kan bly ten spyte van uitdagings.
Whitlock is die mede-eienaar van die Whitlock Care Centre vir persone met gestremdhede in Jansenville.
Sy het self ook twee seuns met gestremdhede en het 'n praatjie gelewer oor hoe sy kop bo water hou met die uitdagings daaraan verbonde.
Graham-Maré het 'n praatjie gelewer oor hoe sy, ongeag die feit dat sy twee keer met borskanker gediagnoseer is en gevolglik mastektomies en uitmergelende behandeling moes deurstaan, steeds so 'n groot sukses van haar loopbaan kon maak.
"Ons was absoluut bevoorreg om dié twee dinamiese dames te kon ervaar," sê Leoné Mulder, bestuurder van Huis Welverdiend.
Raadslid Mandy Deyzel Olivier het ook 'n baie waardevolle voorlesing gelewer. Sy het die persona van Het van Verlangekraal se ma aangeneem en 'n glimlag op almal se gesigte gesit.
Mulder spreek haar dankbaarheid uit teenoor elkeen wat bygedra het tot die sukses van hierdie dag – ook die beheerraadslede, ds. Willie Smith, wat die dag op 'n gepaste wyse geopen het, en ondervoorsitter, Eliana Nell, vir haar bydrae wat die dag net meer vervolmaak het.
"Wat 'n vreugdevolle, inspirerende dag! Hoe sê mens dankie vir almal betrokke? Dit is vir my 'n eer om deel van die Huis Welverdiend crew te wees!"
Huis Welverdiend is 'n tehuis in Jansenville wat in 1979 gebou is en tans huisvesting aan meer as 50 bejaardes bied.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'