GRAAFF-REINET NUUS - Hopestraat se inwoners glimlag breed noudat al die gogo's in hul gemeenskap ten volle ingeënt is.
Die straat het hierdie status behaal toe Lillian Sauls (83), Jane Fillies (74), Koelie Adams (64) en Moira Pylman (63) op Vrydag 30 Junie almal vir hul tweede inentings gegaan het.
Tannie Lillian en tannie Moira erken dat hulle aanvanklik maar baie onseker was oor die inenting, veral nadat hulle allerhande stories daaroor gehoor het. Tannie Lillian noem dat daar vir haar gesê is dat die inenting haar blind gaan maak en vir tannie Moira is daar gesê dat sy knoppe gaan uitslaan en bloedklonte gaan ontwikkel en dat die inenting haar vet gaan maak en 'n groot gesig gaan gee.
Dié bangmaakstories het veroorsaak dat hulle nie alleen wou gaan nie en daarom het die Hopestraat-gogo's besluit om almal saam te gaan sodat hulle mekaar moed kan inpraat en kan bystaan.
Tannie Lillian vertel dat sy glad nie sou gegaan het as dit nie vir haar dogter was nie.
"My dogter is in Duitsland en sy het my gebel om te sê dat sy en my kleinkinders vir my wil kom kuier in Desember, maar dat ek die inenting moet kry sodat hulle kan kom. Toe besluit ek om dit maar te kry omdat ek hulle dan so graag wil sien."
Sy sê dat sy nie een oomblik spyt is nie en dat sy eintlik baie verlig voel omdat sy weet dat sy nou veiliger is. "My kleindogter is 'n mediese dokter in Duitsland en sy het ook gesê dat ek die inenting moet kry," voeg tannie Lillian trots by.
Tannie Jane beklemtoon dat sy haar nie aan enige bangmaakstories gesteur het nie. "Ek het hulle sommer weggewys as hulle kom met stories. Ek luister radio en ek kyk televisie en ek het van die begin af gesê ek gaan hierdie ding (die inenting) vat."
Nie een van hierdie vier gogo's het enige newe-effekte ná die eerste of tweede inentings ervaar nie. Net 'n effense teer gevoel in die arm en matige moegheid was die ernstigste klagtes.
Tannie Koelie vertel dat sy direk nadat sy die eerste inenting ontvang het, nog 'n groot bondel wasgoed met die hand gaan was het. "Mense moet ophou met die stories wat hulle loop en opmaak oor die inenting."
Sy vertel verder dat dominee Gysman van die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) hulle daaraan herinner het dat almal as kind inentings ontvang het wat groot merke gelos het. "Waarom verwys mense dan nou na hierdie inenting wat nie eens 'n merk los nie as die 'merk van die bees terwyl die inentings wat merke gelos het nooit bevraagteken is nie?
In die ou tyd was mense nie baie geletterd nie. Hulle het maar alles aanvaar en gedoen wat daar vir hulle gesê was om te doen. Ek dink dit het hulle baie gehelp," meen tannie Koelie.
Die Hopestraat-gogo's se uitgangspunt is dat almal in die straat die inenting moet ontvang sodat almal veilig kan wees en die virus stopgesit kan word. Hulle is tans besig om met die jonger mense te gesels oor die inenting.
Tannie Moira noem dat sy juis weer met drie van die jonger span moet gaan praat. "Hulle het vir my gesê dat hulle die inenting nie naby hulle soek nie so ek moet nog so bietjie werk gaan maak daarvan."
Ernstige beroep op inenting
Daar word 'n beroep op elke inwoner van Suid-Afrika gedoen om die inenting teen hierdie virus, wat nou al soveel verwoesting gesaai het, te ontvang. Covid-19-entstowwe gaan deur 'n streng, multistadium toetsproses, insluitend proewe waarby tienduisende mense betrokke is. Hierdie proewe, wat mense met 'n hoë risiko vir Covid-19 insluit, is spesifiek ontwerp om algemene newe-effekte of ander veiligheidskwessies te identifiseer.
Sodra 'n kliniese proef bewys dat 'n Covid-19-entstof veilig en effektief is, word die effektiwiteits- en veiligheidsbewyse onafhanklik hersien voordat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die entstofproduk oorweeg vir voorafkwalifikasie.
'n Eksterne paneel kundiges, wat deur die WGO byeengeroep is, ontleed dan die resultate van die kliniese proewe, bewyse rakende die siekte, ouderdomsgroepe wat geraak word, risikofaktore vir siektes, en ander inligting, en beveel daarna aan of die entstof wel gebruik moet word en, indien wel, hoe dit gebruik moet word.
Dit kan daarom met redelike sekerheid gesê word dat die beskikbare entstowwe teen Covid-19 veilig is. In hierdie stadium het miljoene mense in Suid-Afrika reeds die inenting ontvang sonder dat enige sterftes as gevolg daarvan aangemeld is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'