Update
ABERDEEN NUUS - Die NG Kerk in Aberdeen, met 'n kerktoring wat kompeteer met slegs een ander in die land as die hoogste, is 'n bekende landmerk vir vele.
Soos in vroeëer jare was die kerk Saterdag 4 Februarie die middelpunt van die dorp.
Meer as 350 mense het opgedaag vir die Luan Nel-troosdiens.
Luan, gebore op 29 Augustus 2000 is op 28 Januarie in Bloemfontein by die Mimosa Mall deur 'n sekerheidswag dood aangetref. Geen misdaad word vermoed nie.
Luan het op die plaas Uitkyk grootgeword en in Graaff-Reinet skoolgegaan.
Die troosdiens is gelei deur Ingrid Boshof van Graaff-Reinet en die troosboodskap was uit Jesaja 40. Luan se familie het aangedui dat Jesaja 40:11 wyle Luan se gunsteling vers in die Bybel was.
Die vers vergelyk God se verhouding met gelowiges met die herder se verhouding met sy kudde.
Die orrelis was Franco Prinsloo en die bedankings is behartig deur Tiaan de Klerk.
Die troosbrief het hartroerende, persoonlike briewe van Luan se ouers, sy susters en dierbares naby hom bevat, asook 'n wye verskeidenheid foto's van Luan se lewe.
Ná die diens is verversings in die kerksaal deur die susters van die Aberdeen-gemeente voorgesit.
Luan word oorleef deur sy ouers, Jan en Christelle Nel, en twee sussies, Sané en Lizelle.
Vorige artikel:
'n Buitelynskets van Luan Nel in die troosbrief.
Luan Nel se liefde vir jag is met 'n springbok-velletjie uitgebeeld.
Die troosbrief vir Luan Nel se diens.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'