Update
KAROO NUUS - Luan Nel (22), enigste seun van Jan en Christelle Nel van die plaas Uitkyk in die Aberdeen-omgewing, sou Maandag 30 Januarie sy laaste vraestel vir sy B.Agric-graad aan Kovsies in Bloemfontein skryf en was van plan om eersdaags in die VSA te gaan boer.
Maar, na Luan se skokdood die afgelope naweek, op Saterdag 29 Januarie in Bloemfontein, was sy plek in die eksamenlokaal leeg.
Sy suster, Lizelle, wat ook in Bloemfontein woon, sê die presiese omstandighede rondom sy dood is nog nie amptelik bevestig nie.
Luan se lewelose liggaam is Saterdagmiddag by 'n winkelsentrum in Bloemfontein aangetref, na sy voertuig glo in die vroeë oggendure van Saterdag op die Abrahamskraalpad by Bloemfontein omgeslaan het.
Hy was na bewering alleen in die voertuig en het na die ongeluk vir 'n paar ure by vriende se huis oornag, waarna hy glo die huis verlaat het na net 'n paar ure se slaap. Volgens berigte was hy effe deurmekaar. Die publiek is toe gevra om op die uitkyk te wees vir die jong man, maar hoop het in verdriet en wanhoop geëindig toe 'n sekerheidswag van Mimosa Mall op sy liggaam afgekom het.
Slegs 'n vermoede
Lizelle, sy sussie wat ook in Bloemfontein woon, het in 'n gesprek met die Advertiser benadruk dat 'n verband tussen 'n moontlike hoofbesering in die ongeluk en sy dood 'n vermoede is, maar dat hulle wag op die uitslag van die nadoodse ondersoek.
Sedert die nuus bekend geraak het, stroom boodskappe van medelye in.
Een se plek is leeg... Willem Coetzer (Lizelle se verloofde), Lizelle, Jan, Christelle, Luan, Sané en haar man Jandré van Dyk.
Volkskool bring hulde
Volkskool in Graaff-Reinet, waar Luan vanaf gr. 1 tot gr. 12 was, het spesiaal 'n foto-samestelling in aanlyn-video-formaat uitgereik waar skoolfoto's van Luan se ganse skoolloopbaan gesien kan word. Luan was een van 23 klasmaats wat hulle hele skoolloopbaan einde 2018 voltooi het. Sy klasmaats onthou hom as 'n grapjas, positief en intelligent. Luan het op skool in sport presteer en ook in landsdiens, waarvoor hy provinsiale kleure verwerf het.
Lees Hoër Volkskool se skoolhoof, JT Dörfling, se hartroerende brief op bladsy 7 in die Graaff-Reinet Advertiser.
Sonnige terggees
Sané van Dyk, een van Luan se twee susters, skryf op Facebook: "Wie gaan my nou terg tot ek wil mal word?"
Lizelle het aan die Advertiser bevestig dat, as enigste seun, Luan omtrent haar, Sané en hulle ma, Christelle se siele uitgetrek het. "Ons sal hom onthou as 'n laggende sonskyn-jongman, met 'n aansteeklike liefde vir die lewe."
Luan was vreeslik lief daarvoor om 'n uiltjie te knip - net so 'n kort slapie - en dan gaan hy weer aan. En juis dít is een van Pa Jan se gunsteling herinneringe. Lizelle vertel: "My pa onthou 'n keer toe Luan sy juffrou gevra het om 'n wiskunde-som aan hom te verduidelik, en toe het hy sommer op die skoolbank aan die slaap geraak - in die middel van die verduideliking!"
Luan het die plaaslewe passievol geniet en gekoester - 'n plek waar hy kon gaan stap, motorfiets ry, jag en werk. "Hy was baie, baie lief vir die Karoo - hierdie is sy wêreld." Hy word oorleef deur sy pa, Jan, sy ma, Christelle en twee susters, Sané en Lizelle.
Die troosdiens is Saterdag 4 Februarie om 11:00 by die NG Kerk Aberdeen.
Vorige artikel: Gemeenskap rou saam met Nels oor Luan – troosdiens Saterdag
Luan Nel (22) en sy sussies, Lizelle en Sané.
Die Nel-gesin op sussie Sané se troudag is van links: Luan, Christelle, Sané, Jan en Lizelle.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'