ABERDEEN NUUS – Inwoners van Aberdeen en leerders en leerkragte van Hoër Volkskool op Graaff-Reinet rou saam met die bekende en gerespekteerde Nel-gesin van die plaas Uitkyk by Aberdeen na die dood van hul enigste seun.
Luan Nel (22) is Saterdagmiddag dood aangetref na hy vermoedelik in die vroeë oggendure van Saterdag ‘n hoofbesering in ‘n motorongeluk opgedoen het.
Hy was glo alleen in die voertuig toe dit op die Abrahamskraalpad by Bloemfontein omgeslaan en gerol het. Volgens berigte was hy daarna deurmekaar en het Saterdagoggend vriende se huis verlaat na slegs ‘n paar ure se slaap.
'n Dringende, hoopvolle beroep op mense Saterdagoggend in Bloemfontein om op die uitkyk te wees vir die vermiste jong man, het later die dag in verdriet en wanhoop geëindig toe Luan se lewelose liggaam by ‘n winkelsentrum in die stad gevind is.
Slegs ‘n vermoede
Luan se suster, Lizelle, het tydens ‘n gesprek met die Advertiser dit benadruk dat dit op die stadium slegs ‘n vermoede is dat Luan se dood deur ‘n hoofbesering veroorsaak is en dat hulle nog geen beslissende antwoorde het nie.
Luan, wat sy hoërskooljare op Hoër Volkskool, Graaff-Reinet deurgebring het, het verlede jaar op 29 Augustus sy 22ste verjaarsdag gevier. Hy het op Uitkyk grootgeword en ná sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat, sy pa, Jan op die plaas gehelp. Luan sou einde Maart in die VSA gaan boer.
Troosdiens
Die troosdiens is komende Saterdag, 4 Februarie om 11:00 by die NG-kerk op Aberdeen.
Luan word oorleef deur sy pa, Jan, sy ma, Christelle en twee susters, Sané en Lizelle.
Groetlied vir Luan
Azette Wiesner se woorde soos vertolk deur Lieze Stassen in Groetlied:
“Ek giet vannag soos suiwer reën my groet oor jou, geliefde een.
Jy sal vir altyd hier in my bly.
Ek sal jou dra hier in my hart en ek sal lewe vir jou part.
Soms hoor ek nog jou lag en sien jou bruin oë wat aanhou glo.”
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'