Video
KAROO NUUS EN VIDEO - Hofmeyr, 'n klein plattelandse dorpie, het inwoners met groot harte wat onlangs die dorp reggeruk het.
Hofmeyr Hugs of Hope, het aansoek gedoen by Lottoland in hul nuwe reeks, Help my Dorp.
Die tema van hierdie reuseprojek, is Koester ons Kinders.
Homebrew Films, het op 24 tot 26 Julie 'n groen koevert aan Hofmeyr Hugs of Hope oorhandig met 'n belofte van R240 000 om die dorp binne vier weke reg te ruk.
"Hofmeyr het dadelik moue opgerol en ingespring," deel die voorsitter, André Schoeman mee.
"Hier staan ons nie terug as daar gewerk moet word nie, en ons het dadelik hande gevat," vertel Sanet Coetzer, sekretaresse van Hofmeyr-boerevereniging.
Vier boere het die onwettige stortingsterrein getakel en binne vier dae was daar geen vullis meer sigbaar nie. "Ons doen dit vir ons dorp," was hul antwoord.
'n Nuwe stortingsterrein is ook ingerig. Die munisipale stortingsterrein se toegangsroete is ook meer gaanbaar gemaak. Slegs die dieselrekeninge is deur Lottoland betaal.
Hofmeyer VLV-tak het 'n ou ringmuur en beskadigde toiletgebou bygedam en dit is omskep om te lyk soos 150 jaar gelede.
Soreal Design, is ingeroep om advies te gee oor kunswerke, want Hofmeyr wou hul eie muurskilderye doen.
VIDEO: Teresa Opperman
Sarel de Wet van Soreal het die nodige navorsing gedoen. Vooraf is alle mure voorberei. De Wet het met die foto's en inligting wat hy van die bestuur van Hugs of Hope gekry het, sketse op die mure gemaak. Daarna kon elkeen 'n kwas en 'n blik verf vat en begin inkleur.
"Die tonele op die vier mure beeld die tema Koester ons Kinders uit, waar kindertjies wat oor die laaste 150 jaar in die strate en Hofmeyr se stof grootgeword het, in die mure ingeëts is as veelkleurige skaduwees," vertel De Wet. Plaaslike kunstenaars het kennisgewingborde met boodskappe geskilder, terwyl Lin Opperman die borde by die ingange na Hofmeyr beskilder het en Caria Froehlich het gesorg dat daar by elke ingang ook 'n seëning aangebring word.
Hofmeyr-tuinbouklub en Schoombee Skool het 'n natuurtuin in die vorm van 'n blom uitgelê.
Voor die OVK-gebou is 'n aalwyntuin aangelê met Alice as die middelpunt.
"Alice is 'n 1918 model padskraper, die eerste padskraper wat Hofmeyr-afdelingsraad aangekoop het, en hierdie skrapertjie het tot in 1948 al ses die toegangroetes na Hofmeyr in 'n puik toestand gehou. Sy is mettertyd aangekoop tydens 'n veiling en het nou haar ereplek gevind," vertel Coetzer.
"Beide die tuine is ook omhein, want na die eerste dag se tuinwerk het die dorp se beeste die plante kom verrinneweer."
Inwoners en skole het die vullis opgeruim, weggery en kinders het vullisdromme geverf en geskilder.
"Die 86 jarige Emma Roux het met hulp selfs 'n gebedstuintjie in die hoofstraat aangelê," vertel Ronel Gouws. Daar word nog verbeterings aan speelskole aangebring, netbalbane word opgradeer,en tuine in Twinsville en Eluxolweni word met plantskenkings uitgelê. Boere en plaaslike besighede het ook advertensieborde bewillig, wat die ingange van die dorp ophelder.
Hofmeyr se storie is gebeeldsend op DStv kanaal 144, op 11 Oktober, om 21:00 en Hofmeyr is haar sterstatus waardig. "Dit was 'n maand van feestelike saamwees," vertel diegene wat saamgewoeker het.
Die dromme wat geverf is om die dorp skoon te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’