HOFMEYR NUUS - Hofmeyr het die afgelope naweek hul jaarlikse landbouskou by die dorp se skouterrein gehou.
Die hele gemeenskap het ywerig saamgewerk terwyl die NG Gemeente die kombuis hanteer het en die VLV die pannekoekstalletjie.
Donderdagaand, 16 Maart, is uitstallers tydens ‘n geselligheid verwelkom. Die skaapskou en boeresport het Vrydag plaasgevind en Shaun Vermaak, ‘n merinoboer van Klipplaatsdrift, het beste wol, beste groep ooie en beste vordering gewen.
Vrydagaand het almal heerlik by die skoudans makietie.
Saterdag 18 Maart was dit tyd vir die boer- en saalperdskou, die troeteldierskou en die Bielie-Mielie-kompetisie. Elke inskrywing by Mielie-Bielie bestaan uit vyf mieliekoppe waarvan die beoordelaars die pitte tel.
Die boer met die hoogste pit-gemiddeld wen, maar punte word afgetrek vir wurms, muf, oop skutblare en vrot plekke. Die kompetisie is deur Braam du Plessis gewen.
Nadat alle uitstallers, deelnemers en besoekers die lokale en terrein verlaat het, het een van die organiseerders opgemerk dat dit nie eers nodig was om een enkele papiertjie op te tel nie. Alles was skoon en netjies.
Die Bielie-Mielie-kompetisie is deur Braam du Plessis gewen.
Die NG Gemeente was in beheer van die kombuis en hulle het ‘n storm losgekook.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'