GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool (HVS) het sy jaarlikse opedag op Vrydag 21 Mei aangebied om aan belangstellendes te wys wat dié skool alles bied.
Dit is deur gr. 7-leerders van Laer Volkskool asook leerders van omliggende skole en dorpe bygewoon.
Die skool is bekend vir die hoë premie wat hy plaas op sy akademie. Verskeie van sy onderwysers word as moderators, adjunkhoofnasieners en senior merkers by die jaarlikse matriekeksamen ingespan.
Hoër Volkskool spog gereeld met 100%-slaagsyfer en in 2019 was van sy leerders onder die toppresteerders in die Oos-Kaapse streek aangewys.
Die skoolhoof, Theo Dörfling, is nou betrokke by al die skoolaktiwiteite en elke leerling is vir hom belangrik. Hy is meestal die voorbok om 'n goeie gees in die skool te skep en te hou.
HVS presteer baie goed op sportgebied en het afrigters van topgehalte op alle afrigtingsgebiede. Kuns en kultuur is net so belangrik en talle van sy leerders neem aan die jaarlikse woordfees en eisteddfod deel.
Boogskiet is een van talle sportsoorte wat by Hoër Volkskool aangebied word.
Groot opwinding het tydens die opedag in HVS se gange en op die terrein geheers. Die graad 7’s is in groepe opgedeel en elke groep het vraelys en kaart van die uitleg van die skoolterrein ontvang. Onder leiding van ’n leerlingraadslid het die groepe aan skattejag deelgeneem om die verskillende aktiwiteite te besoek en antwoorde op die vrae te kry.
Die verskillende aktiwiteite is in die klaskamers deur leerders gedemonstreer en op die sportveld kon belangstellendes kyk hoe spanlede deur professionele afrigters gebrei word.
Ouers en leerders het ook die geleentheid gehad om Huis Cronjé te besoek en hulle was aangenaam verras deur die huislike atmosfeer wat die koshuis bied.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'