Update
GRAAFF-REINET NUUS - Daar is 89 uiters gelukkige hoenders wat op 'n plaas buite Graaff-Reinet krap en skrop dat die stof staan.
Hulle is van die sowat 170 hoenders wat aan die begin van die jaar van 'n gewisse dood gered is.
Volgens Carlin Raath, bestuurder van Graaff-Reinet Welfare Society (Graws) het die hoenders wonderlik by hulle nuwe tuiste aangepas en lê hulle nou eiers by die dosyne.
Graws het op 1 Maart ingetree om die hoenders te red nadat een van die projekleiers van die Community Work Programme (CWP), dié plaaslike dierewelsynsorganisasie gekontak het om te gaan kyk na die haglike toestand van die hoenders.
Raath vertel met haar aankoms by die fasiliteit, het hopies dooie hoenders oral rondgelê.
Sien die berig in die Graaff-Reinet Advertiser, Projek 'n hoenderhel, van 9 Maart.
Deesdae is daar geen Maljan onder die hoenders nie.
Raath vertel tien hoenders is binne die eerste twee dae as gevolg van spanning dood. "Op die ou end kon ons net 89 hoenders red. Hulle is nou almal spekvet, rond en gesond."
Die hoenders is sowat twee maande by Graws gehou om seker te maak almal is gesond, en dit het Graws sowat R8 500 uit die sak gejaag om hulle weer op die been te kry.
Die hoenders het tussen 550 g en 750 g geweeg toe hulle gered is, en weeg nou 'n allemintige 1,8 kg tot 2,1 kg - sowaar iets om oor te kekkel en te kraai.
Eiers by die dosyne.
Die hoenders geniet nou 'n lewe van pure plesier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’