GRAAFF-REINET NUUS - 'n Dierewelsynsvereniging ondersoek 'n skokkende voorval van mishandeling nadat 500 hoenders aan hulle eie genade in hokke oorgelaat is en die meeste van honger dood is.
'n Grusame toneel het op Carlin Raath, bestuurder van die Graaff-Reinet Animal Welfare Society (Graws) gewag toe sy verlede Woensdag, 1 Maart, genader is om in te gryp by 'n hoenderprojek in Blom se Kamp in Graaff-Reinet.
Die hoenders was so lank sonder kos dat 330 reeds verhonger het - hopies hoenders het oral rondgelê en die sowat 170 wat nog geleef het, was letterlik net vel en been. Die hokke het gewemel van luise en vlooie en die vloere was toe onder vullis.
Raath het vasgestel dat die hoenderprojek een van Community Work Programme (CWP) se projekte is. Die plaaslike CWP-bestuurder, Elethu Nkeleni het dit bevestig. Nkeleni het ook bevestig dat die Southern African Youth Movement (SAYM) die implemeteringsagent van dié spesifieke CWP-projek is.
Hoenderkos gesteel
Volgens Nkeleni het hulle 500 hoenders ontvang en is die hoenders in November verlede jaar afgelaai met 96 sakke kos - genoeg tot Februarie 2023.
Dit het egter reeds in Desember begin opraak omdat twee van die vier projeklede glo van die kos verkoop en verdwyn het.
Nkeleni sê dat sy op 9 Januarie weer 36 sakke kos by die projek gaan afgelaai het. Volgens haar het sy weer op 13 Februarie vir die projeklede R500 gegee om nog kos te koop. Sy voer aan dat daar tydens haar projekbesoek op 13 Februarie nog 410 hoenders was en dat dit glad nie by haar aangemeld is dat die hoenders besig is om dood te gaan van die honger nie.
Een van die projeklede sê egter dat hy Nkeleni sedert 2 Januarie op drie verskillende geleenthede in kennis gestel het dat die hoenders nie kos het nie.
Daarom het hy besluit om by Graws te gaan aanklop vir hulp omdat hy dit nie langer kon verduur om die hoenders te sien ly nie.
Nkeleni antwoord hierop dat sy die situasie by haar hoofkantoor aangemeld het. Omdat daar nie meer kos vir die hoenders was nie en niemand kon bekostig om dit self aan te koop nie, het die CWP-distriksbestuurder glo voorgestel dat die hoenders verkoop word.
Nkeleni sê sy het toe gewag vir amptelike kommunikasie in hierdie verband omdat sy nie bloot kon voortgaan om die hoenders, wat deel uitmaak van die bates van die projek, sonder die nodige papierwerk te verkoop nie.
Absolute uitmergeling
Raath sê die hoenders sou beslis nie doodgegaan het indien daar wel op 13 Februarie vir hulle kos gekoop en gevoer is nie. Sy is diep geskok dat soveel mense geweet het dat die hoenders nie kos het nie en niks daaraan gedoen het nie.
"Ek kan eenvoudig glad nie verstaan dat nie een van hierdie mense vir een oomblik gedink het dat die hoenders moet eet terwyl hulle wag vir amptelike kommunikasie nie.
"Het niemand dan gedink dat dit dieremishandeling is nie? Vir sommige mense is dit miskien net 'n hoender, maar geen lewende wese verdien tog om dood te gaan van die honger nie.
"Dit is verskriklik wreed." Graws het die oorblywende 170 hoenders in terme van die Animal Protection Act No 71 of 1962 verwyder. Nog tien van die hoenders het daarna doodgegaan omdat dit te laat was om hulle te red - hulle kon net eenvoudig nie meer uithou nie.
Die nadoodse ondersoek wat deur 'n plaaslike veearts gedoen is, bevestig daar was geen teken van enige kliniese siekte nie en dat die hoenders dood is as gevolg van "absolute uitmergeling". Daar was hoegenaamd geen vleis op die karkasse nie.
Dit gaan goed met meeste van die oorblywende hoenders en sommige henne het selfs 'n bietjie houding!
Uitgeteer maar gesond
Die oorblywende hoenders is uitgeteer, maar volgens die veearts is hulle gesond en het net genoeg ordentlike kos nodig.
"Dit gaan nou goed met meeste hoenders. Hulle kry goeie kos en vitamiene en ons kyk op die oomblik na hulle soos kinders," sê Raath.
"Dit is natuurlik steeds moontlik dat van die hoenders nie sal deurtrek nie, maar ons doen ons bes."
Raath is baie bly dat Graws 'n verskil kon maak. "Glo dit of nie, maar van hierdie hoenders het persoonlikheid. Daar is selfs 'n paar henne wat nogal attitude het. Dis regtig baie oulik."
Carlin Raath is met afgryse gevul deur die hope dooie hoenders wat sy aangetref het.
Projekte misluk oral
Volgens Nkeleni is daar talle van hierdie hoenderprojekte regoor die land, insluitend Jansenville, Uitenhage en Queenstown. Die meeste van hierdie hoenders het glo ook doodgegaan. Hieroor spreek Raath haar diepste kommer uit en sê die hoenderprojekte moet onmiddellik stopgesit word. "Opheffing van die gemeenskap mag nooit ten koste van dierelewens wees nie."
Sy sê die projekte is in elk geval 'n totale vermorsing van geld. "Dit is duidelik dat daar duisende der duisende in hierdie projek belê is, maar die projeklede kon dit nie eens vir 'n paar maande aan die gang hou nie." Sy was verstom om soveel duur toerusting te sien, maar geen kos nie.
Raath het 'n vergadering met die CWP-distriksbestuurder belê om die situasie te bespreek. Sy het ook onderneem om met dierebeskermingsverenigings in die geïdentifiseerde dorpe in aanraking te kom sodat die hoenderprojekte ook dáár ondersoek en stopgesit word.
"So iets mag nooit weer gebeur nie. Die manier hoe CWP hierdie hoenders behandel het en die nalatigheid van die mense in beheer is skokkend. Sover ek weet moet CWP opbouend wees en 'n positiewe verskil maak. Dit moenie honger en hartseer bring nie."
Die hokke het gewemel van die luise en vlooie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'