HOFMEYR NUUS - Daar is baie jare gelede laas enige nuwe geboue in die klein karoodorpie, Hofmeyr, opgerig.
Die inwoners is egter baie trots op elke pragtige ou gebou wat deel vorm van hierdie dorp se geskiedenis en ontstaan.
Ongelukkig is daar steeds mense wat geen waarde heg aan dié ou geboue, waarvan sommige terugdateer tot die dorpstigting in 1875 nie.
Die eertydse museum in die hoofstraat was 'n geskenk aan die gemeenskap vanaf die Pretorius-gesin. Dit is nou so beskadig dat slegs die murasie bly staan het. Die eiendom is nou in munisipale besit. Die Residensie, die nuutgeboude woonhuis vir landdros Vaughan in 1902, is ook nou net 'n murasie nadat elke plank, vensterraam, deurkosyn en deur gesteel is. Die Residensie is steeds die eiendom van die departement van justisie.
Tans loop een van die oudste spogwonings, wat dateer uit 1875, deur onder vandale. Planke, kosyne, deure, plafonne sinkdakke en hekke word helder oordag verwyder en hoewel bure en besorgdes dit as vandalisme gaan aangee, word daar nie opgetree nie omdat slegs die eienaar 'n klag mag lê. Die woning is in privaat besit.
"Beskadigde geboue word nooit weer herstel nie en dit is vir ons ontstellend om hierdie vernietiging te beleef, " deel Barend Opperman, besorgde inwoner en buurman mee.
Vandale teiken ou geboue in Hofmeyr en steel alles wat hulle kan uitbreek.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'