GRAAFF-REINET NUUS - Neem my weer terug na Graaff-Reinet, na al die bekende plekke waar my spore lê. Neem my om elke lieflike hoek en draai, ook stadig verby die Karoo-huisies so fraai.
Só het Hermi Baartman, voormalige Graaff-Reinet-inwoner en hoof van die Graaff-Reinet Museum, hierdie geliefde Karoo-dorp in haar bundel Skilder met Woorde vasgepen.
Na 'n langdurige siekte en korttermyn-geheue verlies in 2016, het die Beaufort-Wes pensionaris besluit om by 'n diggroep op Facebook aan te sluit. "Die eerste banale rympies van 2018 het vlerke gekry in die kuberruim, tot die dag toe 'n uitgewer my vra of hulle vir my 'n digbundel kan saamstel," het Baartman aan die Advertiser vertel.
Na 'n proses van skryf en slyp, het Baartman nou 'n versameling van 450 stukke. " Ek skryf oor die Karoo, berge, blomme en bome. Stemme uit die verlede laat van hulle hoor, en 'n paar spoke maak ook hulle opwagting."
Volgens Baartman was 'n groot motivering vir die bundel dat sy haar gedagtes met vriende en familie wou deel. "Iets ligs wat 'n klein spasie opneem in die boekrak, lekker in 'n handsak pas." Sy woon in Beaufort-Wes met haar man, dogter en kleindogter.
Die skryf-gogga het vir Baartman behoorlik gebyt, want sy is reeds besig met haar tweede bundel, Weerkaatsing. Daarna hoop sy om haar memoires vas te vang.
Skilder met Woorde is verkrygbaar teen R150 by Reinethuis, waarvan 'n gedeelte aan die museum geskenk word. Vir kommentaar, navrae, of om 'n boek te bestel, kontak hermi.bundel@gmail.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'