KAROO NUUS - Saans gaan slaap Graaff-Reineters rustiger met 'n lid van die plaaslike Eenheid vir Gemeenskapsveiligheid (GVE) wat daagliks op roep is in ons tyd van nood.
Onder leiding van Gert Venter en JC van Rensburg bekamp die GVE misdaad deur proaktiewe optredes sedert Februarie 2019.
Hierdie nie-winsgewende organisasie lewer 'n onbaatsugtige diens aan die gemeenskap met 'n taakspan van 37 toegewyde en opgeleide vrywilligers wat die dorp se strate patrolleer, sonder betaling. En daar waar die nood druk is 'n reaksie-eenheid spoedig op die toneel danksy volgehoue toewyding deur die GVE.
Die sukses van die GVE is te danke aan 'n wye netwerk van GVE's wat strek vanuit die Suid-Kaap tot in die noorde van ons land. Hulle is verbind met verskeie landbou-organisasies en werk nou saam met die SAPD, talle sekuriteitsfirmas en het toegang tot bykans 30 000 kameras regoor die land.
"Die GVE is daar vir alle wetsgehoorsame burgers. Ons uitgangspunt is om te alle tye tot voordeel en veiligheid van alle burgers op te tree. Ons optrede moet te alle tye die landswet gehoorsaam en in ag neem in al ons optredes," verduidelik Venter, GVE-voorsitter.
Met rondom 1 000 aktiewe lede reeds in die gemeenskap word daar 'n beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te raak, vergaderings by te woon en te help om die oë en ore binne jou omgewing te wees wat inligting verskaf en probleme uitwys.
"Die GVE bied gereeld inligtingsessies aan en is die gemeenskap se toegewyde betrokkenheid kernbelangrik sodat inwoners beter begrip kan hê oor wat die GVE doen, waarby hul nie betrokke kan raak nie en sodoende te leer hoe elkeen in die gemeenskap 'n belangrike rol in almal se veiligheid speel," sê Venter.
Hy lig ook uit dat daar 'n behoefte vir mans tussen die ouderdom van 25 tot 40 jaar is om by die taakspan aan te sluit, bereid is om 'n opleidingskursus te doen en jou tyd en dienste beskikbaar te stel.
Donasies en fondsinsameling hou hierdie diens in die gemeenskap aan die gang, hoewel dit ook baie gebeur dat kostes deur die taakspanlede persoonlik gedra word. Dit is die GVE se doel binne Graaff-Reinet om die dorp so goed moontlik te beveilig en ramp, veiligheid en beskermingsdienste by te staan in tye van nood.
Daar is egter 'n behoefte aan toerusting om hierdie doel te bereik. Venter nooi almal in die gemeenskap uit om die GVE te kontak en betrokke te raak, donasies te maak en om beplande fondsinsamelings te ondersteun.
"Op so 'n manier dra elkeen op 'n geringe mate by tot die onskatbare waarde wat elkeen van ons se veiligheid werd is," sê Venter.
Kontak Gert Venter by 082 804 5779 indien jy betrokke wil raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’