Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Die brand wat Sondagoggend in die vroeë oggendure groot skade aan die Coldstream-restaurant in Kerkstraat aangerig het, is 'n ontsaglike verlies wat die inwoners van Graaff-Reinet soos 'n bomskok getref het.
Die restaurant en eetsaal is deur die brand vernietig en in die proses het talle antieke meubelstukke en ander artefakte, insluitend foto's van historiese waarde, verlore gegaan.
Die gemeenskap het op verskillende platforms hul teleurstelling uitgespreek, juis omdat die items wat verlore gegaan het soveel historiese waarde het en ook omdat die Coldstream-restaurant onlangs baie sorgvuldig - en teen groot onkoste - opgeknap is.
Intussen beweer 'n werknemer van die Dr Beyers Naude-munisipaliteit se brandweerdienste, wat verkies om anoniem te bly, dat die munisipaliteit geen behoorlike kommunikasiestelsel in plek het om te verseker dat daar vinnig genoeg reageer kan word in geval van enige ramp nie.
Fotogalery: Brand verwoes Coldstreamrestaurant
Die restaurant en eetsaal is deur die brand vernietig. Foto's: Hugo Redelinghuys
Volgens dié werknemer is die tolvrye nommer wat kontak moet word in geval van 'n brand die nommer vir 'n skakelbord by SAPS in Gqeberha (Port Elizabeth). Wanneer die skakelbordoperateur 'n oproep rakende 'n brandgeval in Graaff-Reinet ontvang, word dié inligting eers na SAPS in Jansenville deurgestuur waarna dit dan na SAPS in Graaff-Reinet aangestuur word.
Dié omslagtige proses beteken dat hierdie kritieke inligting deur drie verskillende kanale gaan voordat dit die persoon op bystand by die munisipaliteit se brandweerdienste bereik. Dié anonieme werknemer beweer dat hulle soms eers twee ure later die nodige inligting ontvang.
Ná bewering het die brandweerdienste Sondagoggend teen ongeveer 03:00 by die toneel opgedaag nadat die brand glo al teen ongeveer 01:00 uitgebreek het.
Die bekende Suid-Afrikaanse sanger, Matthys Roets, sou by Coldstream-restaurant opgetree het, maar die brand daar het sy planne gekortwiek. Roets het toe Maandagaand by die Drostdy-hotel 'n gratis vertoning vir inwoners van Graaff-Reinet gehou.
Volgens die anonieme werker het die munisipaliteit se brandweerdienste genoeg voertuie en werknemers, maar kommunikasie is die grootste kwelpunt. In dié stadium is 'n WhatsApp-groep glo die enigste funksionele platform vir kommunikasie omdat daar geen ander kommunikasiemiddele is nie.
Hy is van mening dat die twee onlangse voorvalle, asook baie ander vorige insidente, baie beter beheer kon word en dat die skade aansienlik minder sou wees indien die brandweerdienste behoorlik en spoedig gereageer het.
Teen druktyd het die Dr Beyers Naude-munisipaliteit nie op die Graaff-Reinet Advertiser se e-pos- en WhatsApp-navrae gereageer nie.
Die vernietigende vuur wat op Sondag groot gedeeltes van Coldstream in puin gelê het was nie die enigste tragedie die afgelope naweek nie. Miemie Regine Bantom, 'n 60-jarige inwoner van die Riemvasmaak informale nedersetting in Graaff-Reinet het doodgebrand toe haar informele kamertjie Saterdagaand 1 Mei vlamgevat het.
Duur wyne het ook in die brand in die slag gebly.
Dit is die tweede voorval van dié aard in hierdie nedersetting. Tydens 'n vorige soortgelyke insident het 'n jong vrou, net bekend as Soekie, en haar susterskind, die 18 maand oue Tamia, in haar informele kamertjie doodgebrand.
Daar het niks van Miemie se kamertjie oorgebly nie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'