GRAAFF-REINET NUUS - Tiens Germeshuizen en sy vrou van die afgelope 70 jaar, Elaine, vier beide vanjaar groot verjaarsdae.
Tiens word Saterdag 93 jaar oud en sy vrou vier haar 90ste op 2 November. Tiens is 'n boorling van Graaff-Reinet en het hier grootgeword en afgetree.
Volgens Gerrie Germeshuizen het sy pa onlangs Covid en dubbele longontsteking oorleef.
"Hy was vir baie jare 'n bekende begrafnisondernemer in Graaff-Reinet en het ook op die kerkraad van die “Grootkerk” gedien. Hy was eers diaken en later ouderling en toe leierouderling."
Volgens Germeshuizen het sy pa ook vir baie jare die kerk-klok elke Sondag gelui om die dorp bymekaar te roep vir die eredienste.
"Hy was ook destyds een van die stigterslede van Graaff-Reinet se reklamevereniging."
Sy ma het vir jare by Graaff-Reinet Advertiser gewerk.
"Sy het iets van als gedoen. Van berigte oor tik tot proeflees en boeke doen. Sy het daar gewerk toe die Knott-Craigs nog die koerant gehad het."
Volgens Germeshuizen, is sy pa en ma se gesondheid nog goed, maar sukkel hulle so af en toe met die oë, bene, rug en ore.
"Met die geheue en met die gees is daar niks verkeerd nie. Hulle is eintlik nog baie sterk. Dis maar net tipiese oumens dingetjies wat hulle so af en toe bekruip," vertel hy.
Hulle het twee kinders, Gerrie en sy suster Thelina Geater, vier kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Die egpaar woon tans by hul seun.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'