STEYNSBURG NUUS - Dié dorp het Vrydag 4 November 'n hewige haelstorm beleef. Ronaldo Hugo van die plaas De Poort sê in totaal is 103 mm reën gemeet.
Drie van hul voertuie het haelskade opgedoen. Geen voertuig wat buite gestaan het, het glo ongedeerd daarvan afgekom nie.
"Haelkorrels was groter as gholfballe en voertuie is vol duike geslaan, spieëls is afgeslaan of gebreek en voor- en agterruite is uitgeslaan," vertel Hugo.
By sommige huise is al die vensters uitgeslaan.
"Die hael het al my huis se geute verstop en water het eenvoudig oral ingestroom. Voor ek iets aan die saak kon doen was die water deur my hele huis. Dit het my 'n lang tyd geneem om weer alles op te ruim. Ek het ook vier gekraakte ruite," sê Kathy Bezuidenhout.
Willem Hänker van Hofmeyr se bakkie het ook skade gely.
"Terwyl ek besig was om elektriese herstelwerk by die Marais Steyn-tehuis vir bejaardes te doen, moes my bakkie buite staan. Dit is oortrek met duike, ruite is gekraak en die spieël is weggeslaan. Groot gate is in plastiese gedeeltes van die voertuig geslaan. Ek het groot skade."
Talle huise het waterskade opgedoen.
Hierdie dak is fyn en flenters geslaan. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'