GRAAFF-REINET NUUS - Connie Selzer, 'n groot vriend van Thys Bekker en ook oud-onderwyser van Laer Volkskool, bring op deernisvolle wyse hulde aan 'n man wat diep spore in Graaff-Reinet en die Karoo getrap het.
"As iemand in Graaff-Reinet die naam Thys Bekker noem, spring daar onmiddellik 'n magdom beelde, gedagtes en herinneringe in jou gemoed op. En nou het daardie groot seder geval.
Thys Bekker was 'n man uit een stuk. Thys was 'n rots. 'n Staatmaker. 'n Opregte en gewaardeerde vriend en kollega. Thys was 'n polisieman in die ware sin van die woord. Anders gestel: 'n Man van sy woord!
Ek het Thys in 1982 leer ken, toe ek as jongerige onderwyser aan Laer Volkskool verbonde geraak het. Thys se dogter, Doret, asook sy seun, Thysie, was van my eerste leerlinge. Tesame met sy vrou, Johanna, het die Bekkers 'n onuitwisbare indruk op my gemaak. En so ook op die gemoed van almal met wie hulle in aanraking gekom het.
Toys het onmiddellik betrokke geraak by die sport waarvoor hy tot sy dood die liefste was: rugby. Hy het sy stempel vanaf dag een op die rugbyveld afgedruk as skeidsregter, afrigter, hulpafrigter en ondersteuner.
Thys was 'n man van vele woorde - sy luide opdragte is vanaf die kantlyn uitgebasuin, dikwels tot groot vermaak van die toeskouers. As Thys geblaas het, het almal geweet dat regverdigheid sal geskied. Want Thys was 'n eerlike mens. Sy woord was sy woord. En so sou jy dit moes aanvaar.
Thys was 'n kultuurmens. Sy bydrae tot die Rapportryers is van onskatbare waarde. Geen vergadering kon ooit ordentlik op dreef kom as Thys nie daar was om sy bydrae te lewer nie. Thys was nie bang om sy punt te stel nie. En diegene wat met hom verskil het, moes hul feite in lyn plaas, of jou kans op sukses was 'n ronde nul.
Thys was 'n uitmuntende potjiekosmaker. Soveel so, dat hy ver buite die grense van Graaff-Reinet sy vernuf ten toon gestel het by skoue, troues, verjaarsdae en dies meer. So het hy 'n ontsettende wye vriendekring opgebou. Dis daardie vriende wat Thys altyd in hul gedagtes sal onthou.
Wie kan ooit Toys se lekkergoedwinkeltjie, met die gepaste naam van "Lekkerbek" vergeet? Elke week het die ou grote afgereis na Port Elizabeth, en daar sy lekkenyvoorraad aangevul. Geen Sondagmiddag was afgerond sonder dat jy nie eers 'n draai by "Lekkerbek" gemaak het nie.
Ek eer 'n groot en baie geliefde vriend en mede-Rapportryer.
Rus in vrede my ou mater!
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'