GRAAFF-REINET NUUS - Die akteur Moses Williams, 'n boorling van Graaff-Reinet en oudleerder van Ryneveld Primêr en Spandau Sekondêr, is weer in sy pienk gown - dié keer vir 'n lywige Ouma Sarie-reeks vir die televisiekanaal e.tv.
Die Ouma Sarie karakter is gebaseer op Williams se eie ouma, wat 'n groot rol in sy opvoeding en grootwordjare in Graaff-Reinet gespeel het.
Nege en dertig episodes vir drie seisoene van Ouma Sarie word tans by Garden Route Media se kantore in George geskiet, met enkele gaste wat 'n voorsmakie van die reeks lewendig geniet.
Graaff-Reinet Advertiser se susterskoerant, George Herald, het vandeesweek gaan inloer en het die agter-die-skerms opwinding van 'n filmstel eerstehands beleef.
Volgens Williams werk die span teen 'n lekker vinnige pas en skiet hulle sedert verlede Donderdag 13 April 'n episode 'n dag, wat beteken die verfilming behoort teen middel Junie klaar te wees.
Die hoofrolverdeling is as volg: Moses Williams van George as Ouma Sarie; Mirinda Ntantiso van Oudtshoorn as Sylvia Jansen, Ouma Sarie se buurvrou saam met wie sy lekker skinner en baklei; Brutney Singrew van George as Maryna, Ouma Sarie se kleindogter; Hakkiesdraad Hartman van George as Dominee; Regen Joël van Plettenbergbaai as Basil, Ouma Sarie se agterplaasbewoner wat amper meer soos 'n seun is vir haar; en Llewellyn Bond van Sedgefield as Spyker, Maryna se kêrel van wie Ouma Sarie niks hou nie. Die regisseur is Viljé Maritz en die draaiboek is geskryf deur Williams.
Die ware Sarie
Williams se ouma was 'n unieke karakter. "Mense het twee keuses gehad. Either hulle het haar gevat soos sy is, of hulle het haar gehaat vir haar waarheid.
Die meeste mense was baie lief vir haar en haar manier om die waarheid oor te dra. My ouma het in November 2021 afgesterf."
Die karakter Ouma Sarie is tydens Covid-grendeltyd gebore, toe Williams allerlei planne moes maak om kos op die tafel te sit. "Om te oorleef. En nou is sy amper in haar derde bestaansjaar," het hy gesê. "Ek het groot goed sien kom, maar ek het geweet die karakter gaan nog vir lank leef. Ouma Sarie is real en raw. Sy is nie bang om 'n ding te sê soos dit is nie."
Pad na sukses
Williams het eers kort video's op Facebook bekendgestel, later uitgebrei na Tik Tok en YouTube, en later twee aanlynvertonings tydens grendeltyd aangebied.
Kaartjies vir dié vertonings het inter-nasionaal verkoop. "Dit het opgeblaas en miljoene views later, duisende followers later, sit ons op die drumpel van 'n amptelike TV-reeks," het Williams gesê.
Tydens vanjaar se KKNK is Williams genooi om twee vertonings aan te bied, waarvan al die kaartjies uitverkoop is. "Ek het 'n standing ovation ontvang. Dit was ongelooflik."
Die meeste van die karakters in die televisiereeks wat tans geskiet word is oor die laaste paar jaar, vir sy aanlynvertonings, geskep.
Williams praat met groot lof oor die eienaar van Garden Route Media, Marius Wannenburg, wat hom met sy visie bygestaan het. "Sedert ons begin skiet het, was hy nou betrokke," het Williams gesê. "Marius glo in Ouma Sarie. Haar stories breek kleurgrense.
"Ek is vandag hier deur die genade van die Here en elkeen wat deur die jare my ondersteun het - insluitend my meisie Simoné Cloete en my twee seuns, vir wie ek leef. Daar is nie 'n Ouma Sarie sonder haar followers en haar fans nie."
Gaan kyk self
Die verfilming vind daagliks plaas voor 'n ateljeegehoor en bywoning is oop vir die publiek van 11:30 - 13:30, so as jy dalk voor die middel van Junie jouself in George bevind, stuur 'n e-pos aan hanje@gardenroutemedia.co.za om jou sitplek te bespreek.
Moses Williams se Ouma Sarieaanlynvertonings tydens grendeltyd het soos soetkoek verkoop. Foto: Michelle Pienaar
Die ware Sarie: Sarie Williams (79) van Graaff Reinet.
Verwante artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’