GRAAFF-REINET NUUS - Dit was moeilik om te besluit watter finaliste deur is na die eindronde van Graaff-Reinet Advertiser se Braaibroodjiekompetisie, maar einde ten laaste is dit Annelize Lategan, Blackie Swart en Hanmari Eyssen wat mekaar die stryd gaan aansê.
Dié drie moet op 9 September bewys wie werklik die braaibroodjiemeester van Graaff-Reinet is. Die vure sal van 14:00 by die Reinet House (Graaff-Reinet-museum) in Murrystraat brand.
Die beoordelaars is Almaré Fourie (mede-eienaar van Pioneers Restaurant, aanbieder van Karoo-Kombuis op Via en kosredakteur van Sosiaal Digitaal), Johannes Jaantjies (waarnemende parkbestuurder van die Camdeboo Nasionale Park), Anziske Kayster (hoof van die Graaff-Reinet-museum).
Die braaibroodjiemeester wen twee nagte se verblyf vir twee mense in die Camdeboo Nasionale Park se tentkamp, plus ‘n geskenkpak van Jakkalsvlei Wyne.
Sterkte aan die finaliste en sterkte aan die beoordelaars met die moeilike taak wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'