GRAAFF-REINET NUUS - Verskeie gemeenskappe wat genoeg gehad het van munisipale kwessies in Graaff-Reinet, beplan om 11 Maart aan 'n massa-optog in die dorp deel te neem.
Volgens organiseerder Sias Smith, beplan gemeenskapslede van Riemvasmaak, Kroonvale en Mandelapark om 'n memorandum aan burgemeester Deon de Vos te oorhandig.
"Mense is keelvol vir hoë waterrekeninge, maar geen water in die krane nie," het Smith aan die Advertiser gesê.
"Onder andere is strate ook ontoeganklik vir voertuie."
Die optog begin 9.30vm by die Kroonvale-swembad, op die hoek van Republiek en Springbokstrate.
Die oorhandiging van die memorandum sal plaasvind voor die tesouriegebou in Caledonstraat.
Smith sê inwoners mag ook met hul voertuie aan die optog deelneem, indien daar mense is wat nie vêr kan loop nie.
Hy sê almal is siek en sat vir slegte of geen dienslewering.
"Die kreet van dié gemeenskappe is: genoeg is genoeg!".
Kontak Smith op 082 337 5708.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'