GRAAFF-REINET NUUS - Heerlike reën het uitgesak toe 'n groep belangstellendes uit die Graaff-Reinet-gemeenskap op Saterdag 18 Januarie 'n herdenkingsdiens ter ere van kommandant Gideon Scheepers bygewoon het.
Die gedenkdiens is waargeneem deur ds. Louis Venter. Hy het die waardige geleentheid geopen onder die tema, "goeie begin, tragiese einde".
Met die druppels wat harder begin val het, het die sowat 10 teenwoordiges geskuil onder sambrele en aandagtig geluister na Venter se boodskap.
Hoër Volkskool se hoof, Theo Dörfling, en hoofseun Llewellyn Crewe-Brown, was ook deel van die groep. Deur die skriflesing uit 1 Samuel 31, het Venter die kommandant en koning Saul se lewensverhale met mekaar vergelyk.
Volgens Venter was Scheepers se tragiese einde te wyte aan eksterne politieke en oorlogsomstandighede buite sy beheer, terwyl hy koning Saul se dood as 'n tragiese dood aan sy eie hand bestempel het.
Scheepers was 16 toe hy by die militêre eenheid aangesluit het. Op die ouderdom van 20 was hy die stigter en bevelvoerder van 'n suksesvolle eenheid. Op 23 is hy as kommandant aangewys.
Scheepers is in Oktober 1901 gevangenis geneem deur die Britte in Prins Albert, en aan meer as 30 oorlogsmisdade skuldig bevind. Hy is toe, op die ouderdom van 24, deur 'n militêre hof tot dood veroordeel op 18 Januarie 1902.
Sy liggaam is dieselfde nag verskuif na 'n onbekende plek en is nooit gevind nie.
Die monument, so 2 km buite Graaff-Reinet op die R63, is opgerig so na as moontlik aan die oorspronklike plek van Scheepers se teregstelling.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'