Update
KAROO NUUS - Besoekers het die afgelope naweek van alle uithoeke van Suid-Afrika na die middelpunt van die land gereis om die massas water in die Gariepdam te besigtig.
Hoewel die roetes na die dam nie té besig was nie, was die voertuie by uitkykpunte klinkklare bewys dat ons mense passievol is oor water.
Opvallend was dat elkeen, met sy eie gesin, hul afstand gehou het van medebesoekers. Maskers is gedra, en wanneer bekendes raakgeloop is, is daar in die oopte, wyd van mekaar, gekuier.
Die groot aantal stofvuil bakkies het dit ook duidelik gemaak dat talle besoekers vanuit alle oorde die dag hul plaas tuis gelos het.
Tydens die middaguur het elke gesin 'n boom gevind en piekniekmandjies uitgepak - in sommige houers was daar ook koel, kort botteltjies. Eierbroodjies, frikkadelle, worsies, tuisgemaakte hoender en gekookte eiers was aan die orde van die dag. Hier en daar is selfs 'n vuurtjie gepak en skaaptjoppies, boerewors en braaibroodjies is op die kole gegooi.
Baie van die besoekers was stomgeslaan deur die magtige skoonheid van die watermassa en het dit in stilte gadegeslaan.
Teen Sondagaand was die water van die Katzé-dam nog nie by die Gariep nie, en het die vlak van die Gariep op 118,5% gestaan.
'n Gedeelte van die karavaanpark was reeds onder water, en ook die vasmeerplekke van talle bote was oorstroom.
Toeskouers het angstig gewag dat die sluise oopgetrek word, maar mettertyd is daar gewonder of daar dalk 'n probleem met die sluise is. Die sluise is nooit oopgetrek nie.
Die Gariepdam-valle is 'n gesig om te aanskou.
Kruppel of te not, het talle stappers die roete oor die brug aangepak om die watersproei in hul gesigte te voel, en die rollende watermassa met reënboë van naderby te sien. Daar is ook, tipies Suid-Afrikaans, talle gesinsfoto's geneem met die sproei in die agtergrond.
Absoluut verstommend was ook die hoeveelheid rolstoele met bejaarde boere wat by die uitsigpunte rondgestoot is. Waar die terrein moeilik begaanbaar geraak het, het vreemdes hand bygesit om die rolstoele oor die rowwe terrein en trappies te dra.
Wat 'n voorreg om dié skouspelagtige, geskiedkundige gesig te kon beleef, midde die Covid-pandemie wat die nuus oorheers, en tussen mede-natuurliefhebbers. Na almal huiswaarts gekeer het, het daar nêrens leë bottels, blikkies, plastiek of papiere rondgelê het nie. Die natuur was so skoon soos dit hoort.
'n Lewensverrykende ervaring.
Verwante artikel: Gariep Dam is overflowing, thanks Eloise
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'