GRAAFF-REINET NUUS - Die Camdeboo Hospice in Graaff-Reinet, wat reeds 25 jaar lank mense met kanker en ander siektes versorg, het vanjaar hul skakel met die departement van gesondheid hernu en nou is daar puik samewerking met die Horseshoe-kliniek digby die hospies.
Dit behels ook samewerking rondom medikasieverskaffing aan pasiënte. Een nuwe tuisversorger is deur die kliniek opgelei, terwyl twee versorgers van die kliniek by die hospies werk om hul palliatiewe versorgingservaring op te skerp.
Daar word ook eersdaags ‘n gesondheidseminaar by die kliniek gehou as deel van 'n bewusmakingsveldtog oor wat die hospies, wat omsien na 90 pasiënte, bied.
Fondse altyd 'n probleem
Hospiesbestuurder Susan van der Linde, sê ongelukkig het hulle nie vir 2023 geld vanaf die nasionale lotery ontvang nie, en het die Valentynsbal op 11 Februarie slegs R6 000 ingesamel.
Die stoepkoffiemark aan die einde van Februarie het R1 000 ingebring. Paleontoloog Bruce Rubidge, het op 13 Maart ‘n uitstappie na die Wellwood-fossielmuseum en rivierbeddings gereël.
Die steenstandbeelde buite Nieu-Bethesda is besoek en Ryno Greef, die beeldhouer, het meer vertel.
Hike & Hobble
Die grootste fondsinsamelingsprojek van die Camdeboo Hospice is steeds die Hike & Hobble vanaf Ouberg tot in Nieu-Bethesda oor Rietvlei. Dit vind op 6 en 7 Mei plaas en wil vanjaar stappers, drawers en fietsryers trek sodat meer as R200 000 ingesamel kan word.
Hoërskool Grey se jazz ensemble en orkes sal ook in die jaar ‘n fondsinsamelingskonsert in Graaff-Reinet kom hou and besigheidsplanne met finansieringsaansoeke is uitgestuur aan Petro SA, Randburg Munt, Elton John MIV-assosiasie, SMS Portaal en Gold Rush. Iqraa Trust het finansiering bewillig waarmee die hospies hul operasionele kostes vir twee maande sal kan dek. Hul tweedehandse winkel bring ook geld in en donasies word met ope arms ontvang.
Vriende van Camdeboo Hospice
Word ‘n vriend van die hospies teen net R30 per maand, of R360 per jaar.
Van der Linde vertel met vreugde van ‘n pasiënt wat wonderbaarlik herstel het. "Hy het gehoor dat hy na sy siekbed nooit weer sal kan loop nie. Hy doen nou sy eie tuinwerk en kweek groente!"
Foto's: Susan van der Linde
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’