Update
ABERDEEN NUUS - Die beskuldigde in die moordsaak van Aden Esau het op 7 en 9 Maart weer in die hof in Aberdeen verskyn.
Ronaldo Fredericks (19) het skuldig gepleit, maar met inbegrip dat dit nie opsetlik was nie.
Fredericks het uit die staanspoor aangevoer dat hy nooit die opset gehad het om Esau dood te maak nie. Die saak is uitgestel tot Donderdag 13 April en Fredericks is steeds op borgtog.
Esau was 31 jaar oud toe hy kort ná middernag Sondag, 15 Januarie, in 'n vriend se huis in Noordstraat, Aberdeen, aan 'n enkele meswond in die bors beswyk het.
Esau en 'n goeie vriend van hom, asook Fredericks, het die Saterdagaand by 'n ander vriend se huis gekuier.
'n Rusie tussen Esau, sy vriend en Fredericks het glo laat Saterdagaand ontstaan en noodlottig geëindig. Fredericks erken dat hy Esau gesteek het, maar sê hy wou hom nie vermoor nie.
Fredericks is op Sondag 15 Januarie vroeg die oggend deur Aberdeen-polisie in hegtenis geneem en is op 26 Januarie op borgtog vrygelaat.
Hy woon in Lotusville in Aberdeen. Esau se een suster, Janine Vena (27) woon in dieselfde woongebied en het nadat Fredericks op borgtog vrygelaat is, gesê: "Aden is dood en ons het hom begrawe, maar sy moordenaar sit by die huis terwyl Aden se plek in ons huis leeg bly. Waar is daar geregtigheid in dit?"
Vorige artikels:
- Suster praat oor moord op broer
- Bright young life cut short
- Opvolg: Argument eindig tragies
- Argument eindig tragies
Wyle Aden Esau was 'n gewilde jong man. Foto: Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’