GRAAFF-REINET NUUS - Die onlangse besoek van 'n 18-jarige Graaff-Reinetter aan die vervalle stadsaal het weereens die fokus op die agteruitgang van historiese geboue in dié dorp laat val.
Dié gebou was eens op 'n tyd 'n statige gebou waar raadsvergaderings en skoolkonserte gehou is en dit is selfs aan die publiek uitverhuur vir spesiale geleenthede soos verjaarsdae en troues.
Volgens Liam McNaughton, wat die gebou besoek het, is die agteruitgang van historiese geboue vir hom as jong inwoner baie hartseer.
"Ek is bietjie van 'n nerd en is mal oor geskiedenis. Ek het baie navorsing oor die geskiedenis van die gebou gedoen, juis omdat dit my al die jare so gefassineer het. Ek en my ma het in die dorp gery en ek het vir haar gesê dat ek daar wil ingaan."
Volgens hom is die gebou oop vir die publiek en is daar steeds kantore wat deur amptenare gebruik word.
"Ek kry eintlik die personeel wat daar moet werk baie jammer, want die gebou is regtig vervalle. Daar is dele waar die dak inval en daar is dele waar die vloer inval. Daar is ook 'n swerm duiwe wat die stadsaal hul nuwe tuiste gemaak het en hulle is oral. Die ontlasting lê dik op die pragtige meubels, vensterbanke en stoele."
McNaughton sê wat vir hom die hartseerste was, was die feit dat hy glad nie 'n tyd kan onthou wat die gebou nie vervalle was nie.
"Ek en my ma het twee verskillende goed beleef. Sy het na die gebou gekyk en die mooi daarvan onthou en moes toekyk hoe die gebou oor die jare al verder verval. Vir my was dit anders. Ek ken nie die gebou anders as vervalle nie. Ek het nie die mooi herinneringe wat my ma van die geboue het nie en dit is hartseer. Dit voel so half asof die geskiedenis van die dorp nie vir jong mense van vandag bewaar word nie. Als gaan net tot niet."
McNaughton sê dat hy van mening is dat die agteruitgang van die geboue ook 'n nadelige uitwerking op toerisme het.
Geskiedenis van stadsaal
Volgens navorsing van McNaughton gedoen het is die stadsaal, amptelik bekend as die Victoria-stadsaal, in 1902 gebou. Die saal is na Koningin Victoria vernoem.
Die saal, wat amptelik in 1910 geopen is, het gespog met 'n weelderige raadsaal, 'n banketsaal en 'n groot konsertsaal wat toegerus was met die grootste gasbeligtingstel in Suider-Afrika, die belangrikste alternatiewe bron van beligting vir elektrisiteit op daardie tydstip.
'n Navraag is aan die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
'n Deel van die dak wat besig is om ineen te stort. Foto's: Liam McNaughton
Edwardiaanse stoele bedek met voëlontlasting.
Die ontlasting van die duiwe is oral duidelik sigbaar. Foto's: Liam McNaughton
Die toestand van die banketsaal.
'n Deel van die dak wat besig is om ineen te stort. Foto's: Liam McNaughton
Waterskade aan die dak is duidelik sigbaar.
Die ontlasting van die duiwe is oral duidelik sigbaar. Foto's: Liam McNaughton
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'